Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Geen sprake van voortreflikheid in Tshwane se dienslewering

Die VF Plus is met goeie rede bekommerd oor die Tshwane-metro se aanhoudende versuim om die beginsels van gesonde finansiële bestuur, doeltreffende projekuitvoering en grondwetlike dienslewering na te kom.

Volgens die metro se kapitaalbegrotingsprestasieverslag vir die 2024/25-finansiële jaar, is R2,2 miljard, oftewel 95% van die aangepaste kapitaalbegroting van R2,3 miljard, reeds bestee.

Wanneer verpligtinge soos kontrakte en ander verbintenisse bygereken word, styg hierdie syfer tot 98.5%.

Tog toon die verslag dat slegs 47% van die 181 kapitaalprojekte hul beplande mylpale bereik het. Van die oorblywende projekte is 51% vertraag en 2% geheel en al opgeskort.

Dit beteken dat meer as R1 miljard se besteding nie in funksionele of voltooide infrastruktuur omgesit is nie.

Hierdie skreiende teenstrydigheid tussen hoë besteding en lae projekvoltooiing dui op sistemiese tekortkominge in die metro se bestuursvermoë.

Die afwesigheid van deeglike oorsaak-analises, herstelplanne en gevolgebestuur vir amptenare of kontrakteurs dra by tot ’n kultuur van administratiewe traagheid.

Die afname in die doeltreffendheid van die artikel 80-oorsigkomitee is besonder kommerwekkend. Hierdie komitee het voorheen ’n sleutelrol gespeel in toesig oor munisipale kontrakte en finansiële bestuur, maar swak administratiewe ondersteuning en vertragings het die komitee se funksionering ernstig belemmer.

Die VF Plus beskou die situasie as ’n ernstige verbreking van die vertroue van Tshwane se inwoners en as ’n skending van die Grondwet se vereistes vir volhoubare dienslewering en finansiële aanspreeklikheid.

Om hierdie krisis daadwerklik aan te spreek, moet die artikel 80-komitee herleef met ’n versterkte mandaat om toesig te verbeter en kontrakmislukkings deeglik te ondersoek.

Daar moet verpligte oorsaak-analises en deursigtige herstelverslagdoening vir elke vertraagde of opgeskorte projek wees. Verder moet ’n kapitaalherstel-taakspan ingestel word om opgeskorte projekte te oudit, fondse te herallokeer en dienslewering te herstel.

Die inwoners van Tshwane verdien infrastruktuur wat werk en nie hol beloftes of misleidende verslae nie.

Die VF Plus sal aanhou om sy waghondrol te vervul om die metro tot verantwoording te roep.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.