• Die volgende is ‘n uittreksel uit die repliek van mnr. Kobus Hoffman, VF Plus-LPW in die Gautengse wetgewer, op die openingsrede van premier David Makhura.
Die VF Plus is dankbaar dat die premier van Gauteng, David Makhura, in sy provinsiale openingsrede plaasmoorde as ‘n prioriteitsmisdaad geklassifiseer het, maar dit is nie genoeg nie.
Die premier het klem gelê op veiligheid, sosiale samehorigheid en voedselsekerheid, dit terwyl ‘n plaasboer nie in vrede kan boer nie, grondgrype aangehits word en boere as sondebokke uitgemaak word vir alles wat binne Suid-Afrika verkeerd loop.
Die VF Plus stem saam dat daar sosiale samehorigheid moet wees en Suid-Afrika vry van rassisme en alle ander “ismes” moet wees. Tog is plaasmoorde slegs ‘n simptoom van haatspraak, rassisme en populistiese uitsprake deur politici wat hul kiesers niks beter kan bied nie. Hierdie politieke leiers moet verantwoordelike gehou en aangekla word vir die haatspraak en onmin wat hulle verkondig en versprei.
Die brutaliteit en wreedheid waarmee plaasaanvalle en -moorde gepaard gaan, is nie bloot net roof of moord nie, maar haatgedrewe. Dit kan tog nie normaal wees om ‘n kind in ‘n bad kookwater te verdrink of bejaardes se oë uit te steek nie.
Tot en met gister was daar 68 aanvalle en 4 moorde in Gauteng alleen vir 2019. Die volgende skokkende tendense soos nagevors deur AfriForum staan uit:
Brandpuntstasies:
• Hammanskraal – 12
• Pretoria Noord – 9
• Cullinan – 7
• Hercules – 6
• Muldersdrift – 3
Owerhede staan meestal ook en toekyk hoe grondgrype plaasvind en in al daardie gevalle moet landbouers ten duurste die howe nader net om voort te kan gaan met voedselproduksie. Dit vind alles plaas terwyl pres. Cyril Ramaphosa namens die ANC belowe het dat onwettige grondgrype nie toegelaat of geduld sal word nie.
Die VF Plus verwag van die Gautengse wetgewer en premier om ‘n duidelike boodskap aan die owerhede en SAPD te stuur dat onwettige grondgrype nie geduld sal word nie en dat grondeienaars beskerming sal geniet soos wat duidelik bepaal word in ons Grondwet.
Wanneer die uitdagings oor die hele misdaadspektrum in ag geneem word, is dit duidelik dat die regering die SAPD faal en die SAPD op hul beurt weer die inwoners van Gauteng faal.
Aandag moet geskenk word aan die volgende kwelpunte:
• Die SAPD se voertuie, geboue en toerusting is in ‘n haglike toestand;
• Opleiding en bevoegdheid van polisielede is onvoldoende;
• Motivering en werksomstandighede is benard;
• Sosio-ekonomiese omstandighede van lede is uiters kommerwekkend;
• Psigies is lede ongemotiveerd en negatief.
Die VF Plus versoek die premier om die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), buurtwag en plaaswaginisiatiewe deur die gemeenskap te ondersteun en te versterk.
Die inname en opleiding van reserviste moet bespoedig word, die registrasie van vrede-offisiere moet uitgebrei word en die sentrale vuurwapenregister-probleem moet aangespreek en opgelos word.
Kontaknommer: 071 640 7283