Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Anders as pres. Ramaphosa erken premiers van Noordwes en Gauteng die erns van plaasmoorde

Dit is ironies dat die premiers van Noordwes en Gauteng, Job Mokgoro en David Makhura, bereid is om die erns van plaasmoorde te erken en oplossings daarvoor aan die hand te doen, terwyl Suid-Afrika se president, Cyril Ramaphosa, dit steeds ignoreer en selfs voor die wêreld ontken.

Makhura het in sy provinsiale openingsrede gesê plaasaanvalle en -moorde moet prioriteit-aandag in dié provinsie geniet en ‘n spesialis-eenheid sal die taak opgelê word om dié tipe misdaad te bekamp.

Mokgoro het in sy repliek gesê hy sal onder meer skakel met die polisie en ander wetstoepassingsagentskappe om plaasaanvalle te bestry aangesien die veiligheid van boere en mense in die landelike gemeenskap in dié provinsie vir hom ‘n prioriteit is.

Die VF Plus bepleit lank reeds die voorstelle wat die premiers aan die hand doen, naamlik om ‘n beveligingsstrategie met al die rolspelers te bespreek, in besonder die polisie en boere self, en om so gou doenlik ‘n praktiese en werkbare plan op die tafel te plaas en tot uitvoering te bring.

In die geval van Gauteng is daar sprake van ‘n spesiale eenheid om landelike beveiliging te doen.

Premier Mokgoro sê die strategie is belangrik aangesien plaasaanvalle en -moorde onaanvaarbaar is. Hy gee ook erkenning aan die rol wat die VF Plus deur deurlopende druk speel om plaasmoorde op die voorgrond te plaas.

Die VF Plus verwelkom hierdie uitsprake van ‘n senior ANC-politici en ampsdraers aangesien die veiligheid van boere dekades reeds vir die VF Plus ‘n saak van groot en dringende erns is.

Noordwes is die provinsie met die hoogste voorkoms van plaasaanvalle in die land terwyl Gauteng self swaar gebuk gaan onder plaasaanvalle. Die VF Plus is daarom bereid om saam met die premiers te werk in enige opregte poging om plaasaanvalle en ander misdaad te bekamp.

Intussen sal die VF Plus voortgaan om druk op die regering te plaas om die aangeleentheid ‘n nasionale prioriteit te maak en om die voorstelle van Noordwes as ‘n vertrekpunt te gebruik om alle landbouers van Suid-Afrika te beveilig.

Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.