Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Nie drome nie, maar harde werk en hande vat sal Gauteng laat slaag

Die VF Plus het kennis geneem van die toekomsvisie van David Makhura, Gautengse premier. Die probleem is egter dat mooi woorde en voornemens die afgelope 25 jaar gehoor word sonder enige daadwerklik stappe om dit uit te voer.

Die klein meerderheid waarmee die ANC tans in Gauteng regeer, dien as bewys dat die kieserspubliek ook nie meer tevrede is met drome en visies wat niks anders is nie as blote verkiesingsretoriek.

Dit pla dat mense steeds in asblikke moet krap vir kos, dat mense hospitaal toe gaan om te sterf eerder as om behandel te word, dat weerlose mense uitgelewer word aan foltering en die dood soos by Life Esidimeni, dat boere gemartel en vermoor word, dat bendes hoogty vier in talle gemeenskappe, dat skole disfunksioneel is, verengels en die jeug faal, dat die e-tolstelsel steeds bestaan, dat werk skaars is en dat hoop verydel word.

Net die ANC kan die skuld hiervoor kry. Die ANC het 25 jaar gehad om die probleme te behandel, maar het verkies om dit erger te maak deur die staatskas te stroop vir eie gewin deur die toepassing van Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) en Regstellende Aksie (RA).

Werkloosheid is groter as voor 1994. Swart, wit, bruin en Indiër het verarm en die grootste ongelykheid is nie meer tussen verskillende rasse nie, maar tussen ‘n superryk elite van swart kaders en die grootste deel van die swart bevolking wat nie gedeel het in die stropery nie.

Die VF Plus doen ‘n dringende beroep op die premier om ag te slaan op die volgende waarskuwing. Niks sal verbeter solank daar voortgegaan word met dieselfde skadelike beleid en dieselfde mense wat stroping vervolmaak het nie. Dit sal net slegter gaan.

Die ANC regeer tans met ‘n haarbreedte-meerderheid in Gauteng en gaan somtyds ‘n minderheidsregering wees. Die VF Plus se raad aan die premier is dus om die opposisie in dié provinsie deel te maak van die span wat die pad vorentoe moet aanpak.

Die suksesvolle samewerking tussen die VF Plus en die premier op die gebied van landelike veiligheid kan uitgebrei word deur alle partye te betrek by die opstel van ‘n provinsiale grondwet wat die volgende insluit:

• Die beskerming en ontwikkeling van Gauteng se bevolking se kulturele- en taalverskeidenheid;
• Ontwikkeling van entrepreneurskap en groot ekonomiese bedrywighede deur die vryemark te beskerm in 'n stadstaatformaat soortgelyk aan Singapoer;
• Die vestiging van spesiale beskermingsregte vir die kwesbares in die gemeenskap, soos vroue, kinders, bejaardes en gestremdes;
• Die vestiging van toeganklike regshulp deur die skep van ombudsmanne vir provinsiale gesondheidsorg, plaaslike regering en skole om gehalte-onderrig te verseker met die bevoegdheid om gepaste veranderings af te dwing.

‘n Suksesvolle provinsie kan vergelyk word met ‘n koraalrif wat deur ‘n groot verskeidenheid van spesies floreer. ‘n Koraalrif kan ook sterf en Gauteng is tans op daardie trajek. Die VF Plus wil egter deel wees van ‘n poging om deur samewerking oor ‘n breë spektrum te help om beleid te skep wat die provinsie sal laat floreer in al sy inwoners se belang.

Kontaknommers: 082 391 3117 / 066 010 1093

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.