Die misdaadstatistiek vir Gauteng soos uitgereik deur die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Tommy Mthombeni, weerspieël nie die werklike omvang van misdaad in die provinsie nie.
Alhoewel daar marginale afnames in gerapporteerde misdaadsyfers is vir onder meer kontakmisdade met 4,7%, verkragting met 5.8% en eiendomsverwante misdade wat huisbraak insluit met 16,3%, was daar steeds in die kwartaal tussen Oktober 2024 tot Desember 2024, 2300 verkragtings en 4186 huisverwante misdrywe wat inbrake insluit.
Privaat veiligheidsmaatskappye speel ʼn groot rol in die beperking en afname van misdaad.
Dit is ongelukkig ‘n bewese feit dat die publiek nie alle misdaad by die polisie aanmeld nie omdat talle polisiekantore nie in staat is om dossiere te open en te registreer nie en onvoldoende toegerus is met bevoegde lede en voertuie om sake effektief te ondersoek.
By talle landelike polisiekantore word polisielede dikwels oor groot afstande met amptelike diensvoertuie aangery om aan te meld vir hul skofte wat die hantering van klagtes onmoontlik maak.
Daar word onvoldoende melding gemaak van onwettige grondgrype nie waarskynlik omdat die staat die groot sondebok is wat grondgrype betref.
Grootskaalse grondbesettings vind juis plaas op munisipale grond en grond van staatsdepartemente soos Transnet waar spoorinfrastruktuur verval het.
Suid-Afrika se burgers en belastingbetalers is in werklikheid die eienaars van alle staats- en munisipale grond onder voogdyskap van plaaslike owerhede en staatsdepartemente.
Dit is insiggewend dat Gauteng 26,5% bydra tot Suid-Afrika se nasionale misdaadstatistiek wat proporsioneel min of meer ooreenstem met die provinsie se inwonertal.
Die VF Plus doen ʼn beroep op die publiek om gemeenskapsinisiatiewe te ondersteun om misdaad te bekamp en betrokke te raak by gemeenskapspolisiëringsforums.
Die daadwerklike aanmelding van misdaad sal ‘n meer akkurate beeld van werklike misdaadstatistiek bied.