Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling loop risiko van nog ʼn Hoërskool Driehoek-tragedie

(Begrotingsdebat oor Gautengse departement van Infrastruktuurontwikkeling)

Die VF Plus het die Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling gewaarsku dat die departement die risiko loop van nog ‘n Hoërskool Driehoek-tragedie.

Die waarskuwing is gerig tydens die departement se begrotingsdebat vir die nuwe finansiële jaar. Die VF Plus het beklemtoon dat die departement skoolgemeenskappe in die algemeen in die steek laat.

Die departement van infrastruktuurontwikkeling is verantwoordelik vir die bou en onderhoud van alle openbare skole in Gauteng en dra ook die verantwoordelikheid om die skole se grondbelasting aan alle plaaslike regerings te vereffen.

Ten spyte van die eenvoudige mandaat het die departement ‘n reputasie om die bal te laat val tot nadeel van talle skoolgemeenskappe.

Die VF Plus het in die afgelope twee jaar die departement gewaarsku om vinnig in te tree by twee skole met ernstige infrastruktuur-defekte om nog ‘n tragedie te voorkom.

Brakpan Laerskool (Primary School) het groot krake wat deur die dubbelverdiepinggebou loop. Dis veral kommerwekkend dat die krake voorkom by steunpilare.

Nadat die VF Plus self ‘n inspeksie by die skool gedoen het, is daar ‘n volledige verslag na die departement van onderwys gestuur om die kwessie op te neem met die departement van infrastruktuurontwikkeling. Tot op hede is geen inspeksie by die skool gedoen nie.

Die Hoërskool Carletonville het ‘n soortgelyke infrastruktuur-probleem. Die infrastruktuur gaan veral baie vinnig agteruit na elke reënbui. Weereens het die departement tot op hede geen inspekteur na die skool gestuur nie. Die skoolbeheerliggaam het self talle klasse en dele van die gebou toegemaak in afwesigheid van die departement se optrede.

Die vraag is of die departement gaan wag tot ‘n nuwe tragedie gebeur voor dit optree?

Anders as in die Hoërskool Driehoek-geval waar die infrastruktuurprobleem onbekend was weens ‘n gebrek aan gereelde inspeksies, is die departement deeglik bewus van die krisis by Brakpan Laerskool en die Hoërskool Carletonville.

Daarom sal daar baie makliker strafregtelike klagtes ingedien kan word teen die LUR en die departement van infrastruktuurontwikkeling.

Daar is ook talle gevalle van die swak uitvoer van bouprojekte. Dit is kommerwekkend dat die departement net een projek in die vorige finansiële jaar kon voltooi.

Daarby kon die departement nie eens sy begroting bestee nie en moes ‘n deel aan die nasionale tesourie (NT) terugbetaal word.

‘n Voorbeeld van die departement se gebrek aan dienslewering met betrekking tot bouprojekte is die opgradering van infrastruktuur by Lakeside Laerskool (Primary School).

Nadat R53 miljoen bestee is op ‘n bouprojek, is die skool, wat voorheen ten volle funksioneel was, nou onbruikbaar. Dit dui op ‘n wesenlike gebrek in die aanstelling van betroubare boukontrakteurs.

Asof die gebrek aan infrastruktuur-onderhoud nie genoeg is nie, het die departement van infrastruktuur ook nagelaat om talle skole se grondbelasting aan plaaslike regerings oor te betaal.

Hierdie situasie het so benard geword dat die Ekurhuleni-metro onlangs gepoog het om meer as 90 skole in die metro se krag af te sny, selfs skole vir gestremde kinders wat ernstige gesondheidsimplikasies sou hê. Die VF Plus het spoedig ingegryp en die krisis onder die aandag van die LUR vir onderwys gebring wat die aksie gestop het.

Die vraag is natuurlik hoe so iets kan gebeur? Die grondbelasting-rekeninge was maande agterstallig wat daarop dui dat die departement roekeloos optree in dié verband.

Die VF Plus sal derhalwe druk op die departement van infrastruktuurontwikkeling volhou om te verseker dat skoolgemeenskappe effektiewe dienslewering ontvang in die vorm van die bou van genoeg kwaliteit skole, die onderhoud van bestaande skoolinfrastruktuur en die vereffening van skulde aan plaaslike regerings.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.