Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Gauteng se premier moet eerlik wees oor ondersteuning aan Guptas

Die Gautengse premier, mnr. David Makhura, moet eerlik wees en oop kaarte speel oor of hy die Guptas ondersteun of nie.

Volgens mediaberigte het die premier aangedui dat sy kantoor in totaal ‘n bedrag van R5.1 miljoen aan Gupta-beheerde media, wat insluit The New Age koerant, gespandeer het.

Die VF Plus se LPW in die Gautengse wetgewer, mnr. Philip van Staden, het in reaksie op die jongste bekendmaking gesê dat Makhura juis nou na vore moet tree met ‘n eerlike antwoord waarom sy kantoor van Gupta-beheerde media gebruik gemaak het.

“Makhura is openlik nie in die Zuma-kamp nie, maar dit is tog vir hom aanvaarbaar om van die Guptas se dienste gebruik te maak. Met die swaard wat tans oor die president en sy Gupta-vennote hang, sal dit net die regte ding wees vir Makhura om duidelikheid te gee oor waarom sy kantoor van Gupta-beheerde media gebruik gemaak het.

“Indien die premier die morele hoë grond wil behou moet hy aandui of die ANC op nasionale vlak hom gedwing het om van die Guptas se dienste gebruik te maak of nie. Indien dit wel die geval was, is dit ‘n sterk aanduiding dat die premier swig voor president Zuma se bevele en dat hy maar net nog ‘n pop in die poppekas is.

“Premier Makhura straal die beeld uit dat die ANC in Gauteng nie in dieselfde kamp beweeg as die ANC op nasionale vlak nie. Indien dit wel die geval is vra die VF Plus dan die vraag waarom het die premier dan wel van die Gupta-media gebruik gemaak met die plasing en uitsaai van advertensies?

“Dit is juis nou die tyd dat die premier hom moet distansieer van die ANC op nasionale vlak en indien die opdrag van bo kom, dat hy van die Guptas gebruik moet maak, moet hy sterk standpunt inneem en weier om aan sulke eise te voldoen.

“Indien Makhura nie swig voor die ANC se onderduimse opdragte nie en sy voet behoorlik neersit, dan sal dit ‘n openlike aanduiding wees dat hy ernstig is om nie in dieselfde kamp as Zuma te beweeg nie.

“Indien hy wel swig voor hul opdragte maak hy hom maar net so skuldig soos die ander ANC politici aan korrupsie en staatskaping deur wel die Guptas te ondersteun,” het Van Staden gesê.

 

Tel: 0840154722 of 011-498 5477 / 012-772 4410

epos: Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.