Die VF Plus het dit in die debat oor die Gautengse departement van landbou en landelike ontwikkeling se 2026/27-begroting beklemtoon dat die provinsie se landboupotensiaal onderbenut word.
Hoewel Gauteng die kleinste provinsie in Suid-Afrika is, bly dit die ekonomiese hart van die land. Juis daarom behoort elke hektaar produktiewe landbougrond beskerm en optimaal benut te word om voedselproduksie, ekonomiese groei en werkskepping te bevorder.
Die VF Plus is bekommerd oor die voortgesette verlies van waardevolle landbougrond weens onbeheerde stedelike uitbreiding en swak ruimtelike beplanning.
Sodra produktiewe grond verlore gaan, is dit feitlik onmoontlik om te herstel. Die provinsie benodig ‘n daadwerklike strategie om hoëpotensiaal-landbougrond te beskerm en boere die nodige ondersteuning te bied om produksie uit te brei.
Boere staar toenemende uitdagings in die gesig, waaronder stygende insetkoste, infrastruktuurverval, wateronsekerheid, veediefstal en onvoldoende ondersteuning.
Tog word die sukses van regeringsprogramme steeds gemeet aan die aantal projekte wat geloods word eerder as die aantal boere wat volhoubare ondernemings vestig, werk skep en tot die ekonomie bydra.
Die onlangse uitbrekings van bek-en-klouseer en ander veesiektes het verder die noodsaaklikheid van sterker biosekuriteit, doeltreffende naspeurbaarheidstelsels en beter risikobestuur blootgelê.
Hierdie gebiede vereis dringende aandag en groter investering.
Landbou moet as ‘n strategiese ekonomiese bate beskou word, nie bloot as ‘n maatskaplike ontwikkelingsinstrument nie.
Met beter beplanning, sterker leierskap en doelgerigte investering, kan Gauteng sy voedselsekerheid versterk, meer werkgeleenthede skep en sy afhanklikheid van ander provinsies verminder.
Die VF Plus sal sy oorsigrol verskerp om die provinsie se landboupotensiaal te ontsluit. Die mense van Gauteng verdien niks minder nie.


