Dit raak al hoe duideliker dat dit die plan van Gauteng se departement van gesondheid was om die probleem rondom forensiese personeel onder die mat in te vee en te hoop dat die probleem verdwyn.
Die nasionale departement van gesondheid het gister in die parlement erken dat die Gautengse departement van gesondheid wel toegelaat het dat mense wat nie opgelei is nie al die afgelope tien jaar lykskouings uitvoer. Vroeër die week het die Gautengse departement van gesondheid dit ontken.
Die VF Plus se LPW in Gauteng, mnr. Philip van Staden, het in reaksie op die jongste gebeure gesê dat daar 'n volskaalse ondersoek teen die Gautengse departement van gesondheid geloods moet word en dat die departement nog baie geraamtes in die kas het.
"Die nuwe LUR van gesondheid, dr. Gwen Ramakgopa, het baie meer probleme as wat sy op hierdie stadium kan hanteer. Sedert sy vroeër vanjaar as die nuwe LUR aangestel is, het drie groot skandale in haar departement na vore gekom naamlik die 94 sterftes by Esedimeni – wat nog nie uitgesorteer is nie, die ineenstorting van die Charlotte Maxeke-hospitaal se dak waarby die LUR vir infrastruktuurontwikkeling ook by betrek is en nou die skandaal rondom lykskouings in Gauteng.
“Dit is duidelik dat die LUR se departement baie hard probeer om probleme, wat onder die mat ingevee is, daar te probeer hou met die hoop dat dit dalk sal verdwyn. Dit gaan egter nie gebeur nie. Nog meer en meer probleme gaan nou hul kop uitsteek.
“Die VF Plus is ook baie bekommerd oor die uitwerking wat die jongste skandaal op die uitsprake van howe, insake die uitslae van hierdie lykskouings van die afgelope tien jaar, gaan hê. Dit het gister ook aan die lig gekom dat indien dit wel die geval is, alle hofsake oor die afgelope tien jaar hersien sal moet word.
"Die departement van gesondheid in Gauteng besef nie watter uitwerking hul laksheid tot gevolg het nie. Dit kan wees dat daar nou onskuldige mense in die tronk sit en dat die regte oortreder buite vry rondloop. Dit is 'n massiewe probleem wat nie net onnodige druk plaas op die regstelsel nie, maar ook gaan veroorsaak dat mense in die vervolg die uitslae van lykskouings in hofsake gaan bevraagteken en dat uitsprake nie deur howe gelewer sal kan word nie.
Die VF Plus gaan volgende week tydens die gesondheidsdebat in die Gautengse wetgewer aandring op 'n volledige ondersoek rondom Gauteng se departement van gesondheid en dat daar 'n behoorlike oudit van die departement se werksaamhede gedoen word.
Tel: 084 015 4722 / 060 556 4347 / 012-772 4410
Philip@vf.co.za / PvanStaden@gpl.gov.za