fbpx
Vryheidsfront Plus

Gauteng-regering se IT-blitstender: OB bevestig dat VF Plus se klag ondersoek word

Die Openbare Beskermer (OB) het bevestig dat die VF Plus se klag oor die blitstender vir IT-dienste wat die Gauteng-regering aan ‘n diensverskaffer toegeken het, ondersoek gaan word. Die VF Plus beskou die toetrede van die OB tot die saak as belangrik om vas te stel of daar enige onreëlmatighede of onwettige optrede in dié verband was.

Die omstandighede rondom die toekenning van die tender het rooi ligte laat flikker en daarom het die VF Plus die OB genader.

Luidens ‘n berig in die City Press van 5 Maart 2020 het verskeie ander diensverskaffers klagte hieroor ingedien by die minister van kommunikasie en digitale tegnologie, Stella Ndabeni-Abrahams. ‘n Fluitjieblaser het ‘n brief hieroor aan president Cyril Ramaphosa geskryf.

Eerstens blyk dit dat diensverskaffers tydens die uitnodiging om te tender net twee werkure daarvoor gekry het aangesien die uitnodigings-e-pos om 17:17 op 25 Maart 2020 uitgestuur is en daar vereis is dat die tender ingedien moes word teen 10:00 op 26 Maart 2020.

Die diensverskaffer wat die tender gewen het, In2IT Technologies, het luidens berigte vinnig gereageer met ‘n 100 bladsy tender-dokument. Die tender is blykbaar spoedig daarna toegeken aan dié diensverskaffer. Die hele proses het net 24 uur geduur.

Die huidige diensverskaffer wat nou vervang word, GSOC Security Services, argumenteer dat dit onmoontlik is om in so min tyd so ‘n omvattende tenderdokument op te stel en gereed te hê. Volgens die City Press-berig is daar amptenare in die departement wat meen die tender is geskep met ‘n spesifieke diensverskaffer in gedagte.

Tweedens blyk dit dat daar ‘n botsing van belange bestaan tussen In2IT Technologies en uitvoerende lede van die Gautengse regering. Dit is nie duidelik of dit wel verklaar en hanteer is nie.

Luidens die berig is die diensverskaffer ‘n borg van die sokkerspan Moroka Swallows, waarby die LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, belange het.

Verder word berig dat daar reeds verskeie pogings was om die diensverskaffer by ander regeringsinstansies betrokke te kry, maar sonder sukses. Dit versterk die indruk dat die Gautengse regering hierdie tender spesifiek vir die diensverskaffer geskep en toegeken het.

Teen hierdie agtergrond het die VF Plus besluit om die OB te versoek om die tender vir enige onreëlmatighede te ondersoek.

Dit is belangrik dat daar in hierdie grendeltyd met ekstra aandag gekyk word wat die regering op al drie vlakke doen aangesien oorsigstrukture nog nie na behore funksioneer nie.

Die VF Plus is bewus van die verantwoordelikheid wat dit op die party plaas en sal nie skroom om op te tree waar enige ongerymdhede vermoed word nie.

Navrae: 082 391 3117

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.