Die premier van Gauteng, David Makhura, se provinsiale rede gister, tydens die opening van die Gauteng Wetgewer, was skokkend en lagwekkend, sê mnr. Philip van Staden, provinsiale wetgewerslid van die VF Plus in Gauteng.
Van Staden sê die VF Plus het die premier se uitlatings in ongeloof aangehoor en dit het bloot geklink asof hy net gedeeltes van sy toespraak van 2014 ‘n bietjie afgestof het.
Hy sê Makhura se ekonomiese ontwikkelingsplanne vir Gauteng en ander aksieplanne is nie haalbaar nie. Die VF Plus sou ook graag wou sien dat die premier ‘n tydskedule aan sy planne koppel, iets wat waarskynlik nie sal gebeur nie.
“Die behuising-agterstand in Gauteng staan tans op 800 000. Die premier het gister aangekondig dat slegs 140 000 huise gebou gaan word in Johannesburg, 100 000 in Ekurhuleni, 160 000 in Pretoria, 160 000 in Wesrand en 120 000 in die Vaaldriehoek. Dit bring die totaal op 680 000 huise te staan.
“Geen plan is egter aangekondig oor infrastruktuur-uitbreiding om hierdie vraag na behuising te behartig nie. Daar is eerder aandag gegee aan die uitbreiding van die Gautrein- en die BRT-busstelsels in Johannesburg, Pretoria en Ekurhuleni.
“Die premier het klem gelê op beter behandeling van buitelanders in die provinsie, maar geen woord gesê oor die optrede van die metro- en verkeerspolisie wat toenemend in beweerde voorvalle van geweld en rassisme betrokke is waar vroue en kinders geteiken word en hardhandig behandel word nie.
“Hy het ook niks gesê oor die opleiding van metro-polisiebeamptes en die verskerping van wet en orde nie, maar het wel genoem dat binnegevegte in dié provinsie se polisie die bekamping van misdaad lam lê.
“Die verwagte aankondiging oor nuwe hospitale is gedoen, maar niks is gesê oor die verval van bestaande hospitale waar mense weens nalatigheid sterf nie. Ook nie oor strenger optrede teenoor korrupte amptenare binne lisensiekantore in Gauteng nie.
“Die enigste oplossing wat die premier aan die hand gedoen het oor armoede-verligting in Gauteng, was om te sê dat kospakkies uitgedeel gaan word. Hy het selfs aangekondig dat die kweek van garnale aan die Wesrand oor ‘n periode van drie jaar in werking gestel gaan word.
“Oor e-tol is aangekondig dat ‘n nuwe metode gesoek word om die projek meer bekostigbaar te maak. Die VF Plus is van mening dat Makhura homself in ‘n netelige posisie bevind met e-tol en dat dit self ‘n invloed op sy politieke loopbaan kan hê.
“Skaf die premier die e-tol af, steek die ANC hom in die pad. Skaf hy dit nie af nie, steek sy eie kiesers hom in die pad in 2019. In die lig hiervan is dit duidelik waarom die toespraak vaag en leeg was en dat die jaarprogram nou maar net gevolg word,” sê Van Staden.
Philip van Staden
Tel: 084 015 4722