Die tekens van Suid-Afrika se ekonomiese verval raak toenemend sigbaar en dit het nou van kritieke belang geword om die land se bestaande en mislukte ekonomiese beleid te vervang met ‘n haalbare en werkbare beleid, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.
Adv. Alberts sê die korrekte ekonomiese beleid gaan oor meer as blote grondwetlikheid, en dat menslikheid ook ‘n groot rol hierin speel.
“Dit gryp aan ‘n mens se hart wanneer kinders in die strate bedel, ‘n ou man in asblikke krap vir bietjie kos en ‘n vrou haarself en haar kinders doodmaak omdat haar inkomste te min is terwyl die staat geld vermors asof daar geen einde is nie. Dit kan nie so voortgaan nie.
“Akademici reken ons staar ‘n fiskale afgrond in die gesig teen 2026 wanneer die staat net genoeg geld gaan hê om sy staatsamptenare en maatskaplike toelaes te betaal. Die Vryheidsfront Plus reken daardie afgrond is veel nader as 2026 gegewe die omvang van verspilde en vrugtelose uitgawes en korrupsie,” sê adv. Alberts.
Hy sê die geskiedenis van die afgelope tweehonderd jaar bied waardevolle ekonomiese lesse en veral sedert die industriële revolusie het die lesse ten koste van groot menslike pyn en lyding gekom.
“In die finale analise hiervan is dit baie duidelik dat die beste regeringsvorm ‘n liberale demokrasie is met genoegsame beskerming vir minderhede terwyl die mees effektiewe ekonomiese beleid ‘n vryemarkstelsel met voldoende steun aan entrepreneurs is. Hier moet in gedagte gehou word dat regering- en ekonomiese beleid onlosmaaklik deel is van mekaar.
“Daar is dus nie ‘n ander pad vir ons as die beproefde een nie. Enige idees oor ‘n ontwikkelingstaat is effektiewelik doodgebore. Dieselfde land wat dié idee geskep het, Maleisië, het dit ook verwerp. Hulle het ook regstellende aksie geskep en dit verwerp. China het gedink hy kan vryemark-beginsels toepas sonder demokrasie en nou begin dit faal.
“Ons is bevoorreg dat ons uit die duur lesse van die verlede kan leer. Dink net aan diegene wat Stalin se ekonomiese vernietigingswerk oorleef het. Laat ons ter wille van almal wat onder ‘n mislukte beleid gely het en steeds ly, die regte ding doen en die lesse van die verlede toepas,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403