Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Magashule ontken die werklikheid en neem geen verantwoordelikheid nie

Die premier van die Vrystaat, mnr. Ace Magashule, het vandag tydens se openingsrede weereens in onsinvolle retoriek verval en algemene waarhede kwytgeraak eerder as om die talle krisisse in die Vrystaat te erken en aan te spreek.

Volgens Wouter Wessels, VF Plus-lid in die Vrystaatse Wetgewer, was premier Magashule se toespraak slegs ‘n herhaling van vorige openingsredes en het dit geensins die verbeelding aangegryp nie. Die premier het algemene waarhede beklemtoon, soos ons moet die kwaliteit van onderwysers verbeter, sonder om aan te kondig hoe dit bereik gaan word.

Wessels meen die Vrystaat het nou sterk leierskap nodig en dat premier Magashule weereens vandag bewys het dat hy onbevoeg is om daadwerklike oplossings te bied en rigting aan te dui. Die feit dat premier Magashule steeds probleme 21 jaar na 1994 op Apartheid blameer, is onaanvaarbaar en gaan beslis nie die ernstige krisisse aanspreek nie.

Die premier het die kleinerwordende belastingbetalersbasis en dus finansiële beperkings van landelike munisipaliteite op Apartheid blameer. Wessels sê dit is geensins Apartheid se skuld dat daar ‘n konstante uittog van inwoners vanuit hierdie munisipaliteite is nie. Dit is eerder die ANC-regering wat hierdie munisipaliteite wanbestuur en dienslewering in duie laat stort wat tot gevolg het dat inwoners hierdie gebiede verlaat, besighede sluit en beleggings nie plaasvind nie.

Die premier het die krisis in die departement van gesondheid geïgnoreer. Hy sê nie wat sy regering gaan doen om die volgehoue tekort aan medisyne en basiese mediese voorrade aan te spreek nie. Sy oplossing om meer Kubaanse dokters na die Vrystaat te bring gaan nie hierdie probleme aanspreek nie.

Die premier het vandag bewys dat die ANC-regering diep in die moeilikheid is deur na strooihalms te gryp. Die sogenaamde oplossings wat die premier aangekondig het, gaan beslis nie die armoede, werkloosheid en swak ekonomiese groei in die provinsie aanspreek nie.

Volgens Wessels is dit uiters onaanvaarbaar dat die premier nie na die huidige droogte in die Vrystaat verwys het nie wat groot finansiële verliese, werksverliese en voedselonsekerheid tot gevolg gaan hê.

 

082 674 6670

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.