Die ouditeur-generaal (OG) se waarskuwing in sy ouditverslag dat plaaslike regerings in Gauteng op pad is na finansiële ondergang, kom heeltemal te laat. Die onderprestasie van munisipaliteite in Gauteng is een van die brandpunte wat die OG in sy verslag uitgelig het.
Die VF Plus waarsku lank reeds dat die ANC se voetspoor van wanbestuur, korrupsie en staatskaping in Gauteng sy tol gaan eis. Dit is die redes waarom munisipaliteite in Gauteng in ‘n verswakte staat verkeer en die OG en die provinsiale tesourie moes lankal ingegryp het.
Die VF Plus is van mening dat munisipaliteite se geïntegreerde ontwikkelingsplanne (GOP/IDP) nie soos beplan uitgerol word nie en daarom is daar geen groei volgens die voorgestelde begrotings nie.
Ongerymdhede in munisipaliteite word nie aangespreek nie en daar is min tot geen gevolge vir wanbestuur. Miljoene rand se verliese word die belastingbetaler se probleem terwyl dienslewering verswak.
Nie een van die sukkelende munisipaliteite het met die aanvang van die 2020/21-finansiële jaar ‘n volhoubare omkeerplan voorgestel nie. Daar is ook nie veel gedoen om klein-ondernemings tegemoet te kom om groei en stabiliteit in die plaaslike ekonomie te vestig nie.
Dit is kommerwekkend dat munisipaliteite miljoene rand op konsultante bestee om die chaos in hul finansiële departemente te probeer oplos.
Dit is om dié rede dat die VF Plus einde verlede jaar ‘n aanspreeklikheidsoudit in die wetgewerkomitees vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (Cogta) en openbare rekeningekomitee (Scopa) aangevra het.
Dit was om te bepaal of amptenare van munisipaliteite en die provinsiale wetgewer oor die nodige kwalifikasies en ondervinding beskik om wel die werk waarvoor hulle aangestel is, te verrig. Dit sal verhinder dat onnodige onkostes aangegaan word om konsultante aan te stel.
Die verslag moes aan die begin van die jaar voor die onderskeie komitees gedien het, maar die voortslepende staat van inperking blyk ‘n gerieflike klimaat te skep vir die ANC-regering om hul verantwoordbaarheid te ontduik of onbepaald uit te stel.
Die VF Plus gaan sy rol as plaaslike regeringswaghond verskerp deur toenemend druk op munisipaliteite en die uitvoerende gesag uit te oefen om hul grondwetlike mandaat te vervul.
Navrae: 071 604 9498