(Debat in parlement)
Plan op plan wat in die verlede net uitgeloop het op die totale vernietiging van Suid-Afrika se ekonomie, is al wat die ANC-regering op die tafel kan plaas om die huidige kritieke toestand van die land se ekonomie te beredder.
Die regering moet ophou inmeng in die ekonomie en eerder die rol speel om 'n gunstige omgewing vir die privaat sektor te skep.
Werkloosheid en armoede neem daagliks toe terwyl die land se geldkoffers leeg raak. Die situasie was reeds voor Covid-19 kritiek. Die pandemie en inperkings het dit net nader aan die afgrond gebring.
Hierdie faktore lei noodwendig tot ‘n krimpende belastingpoel terwyl staatsuitgawes soos regeringskuld hand oor hand toeneem. Nuwe, werkende planne is nodig. Geykte retoriek gaan geen doel dien nie.
Wat die land nodig het vir groei, is toegewyde regeringsbeleid wat ‘n omgewing skep vir beleggings en ekonomiese groei en sinvolle fiskale beplanning.
Daar is sprake van herverdeling van rykdom. Die werklikheid is dat daar feitlik net armoede is om te herverdeel. Die tyd het aangebreek om rykdom te skep, nie te verdeel nie.
Om dit te vermag moet die staat ‘n omgewing skep waarin die private sektor kan groei en geleenthede vir almal skep. Dit sluit in minder vyandige arbeidswetgewing, om weg te doen met beleid soos onteiening sonder vergoeding wat beleggers afskrik en om sy basiese pligte soos instandhouding van infrastruktuur na te kom.
Die staat moet ‘n omgewing met gelyke geleenthede skep, sonder Regstellende Aksie, sonder Swart Ekonomiese Bemagtiging en sonder kader-bevoorregting deur onder meer tenderverryking. Al hierdie dinge kom neer op die diefstal van belastinggeld.
Die VF Plus steun nie die aangepaste fiskale raamwerk nie. Dit raak nie aan die kwessies van die regering se onvolhoubare salarisrekening nie, ook nie aan krisis rondom staatsondernemings soos die SAL of SA Express nie.
Die R100 miljard wat vir werkskepping bewillig word, is onverstaanbaar. Geen regering kan volhoubaar werk skep nie. Daardie fondse moet eerder vir die ontwikkeling en instandhouding van infrastruktuur aangewend word sodat 'n gunstige omgewing vir die privaat sektor geskep word om werk te kan skep.
Planne wat nie uitvoerbaar is nie, is net drome. Die regering het tans geen werkbare plan om volhoubare ekonomiese groei op die langtermyn te bewerkstellig nie.
Navrae: 082 674 6670