fbpx
Vryheidsfront Plus

Fransman se uitlatings oor provinsies wys dat ANC nie in staat is om Wes-Kaap oor te neem nie

Die ANC is duidelik in ‘n verleentheid oor die onbevoegdheid van politieke ampsbekleërs in die provinsies wat hy beheer, en om dit te verbloem wil hy die enigste provinsie waar hy nie regeer nie, die Wes-Kaap, in sy mag kry, sê mnr. André Fourie, VF Plus-raadslid vir die Stad Kaapstad.

Mnr. Fourie sê daar was reeds suggesties vanuit Luthuli-huis dat provinsiale grense in oënskou geneem moet word voordat Marius Fransman nou op die kongres van die Wes-Kaapse ANC voorgestel het dat provinsies afgeskaf moet word.

Hy sê dit bewys Fransman en die ANC se erkenning dat hulle handdoek ingooi om beheer in die Wes-Kaap oor te neem.

“Tydens onderhandelings vir die nuwe Grondwet tussen 1992 en 1996 was dit die standpunt van die ANC dat hulle ‘n sentrale regering verkies met muur-tot-muur munisipaliteite en metro’s vir die groter sentra aangesien hulle nie provinsies wou hê nie.

“Die destydse departement van streek en- grondsake het ‘n konsep van vyf provinsies voorgestel, maar op aandrang van ‘n Nasionale Party-minister vir ‘n bykomende provinsie in die Noord-Kaap, het die ANC ‘n provinsie vir die Oos-Kaap opgeëis, en so het dit eindelik nege geraak.

“Omdat die ANC nie sy sin gekry het vir geen provinsies nie, is die provinsies toe op sy aandrang met die minimum magte en bevoegdhede beklee. ‘n Voorbeeld hiervan is veiligheid en sekuriteit waar provinsiale magte slegs ‘n oorsigrol het en geen opdragte aan die polisie kan gee nie.

“Provinsies ontvang ook volgens ‘n formule ‘n begrotingsbedrag van die sentrale regering wat die Wes-Kaap negatief raak.

“In stede daarvan om provinsies af te skaf, behoort die Wes-Kaap se inwoners saam te staan en aan te dring op groter outonomie in die vorm van volle magte en bevoegdhede sodat die provinsie oor sy eie sake kan besluit.

“Die wit- en bruin-minderheidsgroepe in Suid-Afrika hou die hef in die hand in die Wes-Kaap en die swart-meerderheid hou ooglopend nie daarvan nie, saam met enkelinge soos Fransman.

“Die Wes-Kaap maak ‘n massiewe bydrae tot die sentrale fiskus en moet eenvoudig net vra vir daardie bedrag by wyse van oordrag. ‘n Mens kan jou net indink welke vertroue die provinsie sal inboesem vir werkskeppende kapitale invloei.

“In die res van die land moet die ANC sy beplanning, bestuur, onderhoud en regeringsadministrasie in die sentrale regering en vir provinsies onder sy beheer opskerp wat hulle klaarblyklik nie regkry nie. Die ANC se uitspraak na 1994 dat hy ‘gereed is om te regeer’, het net eenvoudig nog nooit gerealiseer nie,” sê mnr. Fourie.

 

083 441 9262

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.