fbpx
Vryheidsfront Plus

Europese Unie-parlementslede vergader met VF Plus oor die desperate situasie in Suid-Afrika

Die VF Plus het in die week ‘n afvaardiging van Europese parlementslede ontvang, naamlik Danilo Lancini van die Italiaanse regerende Lega-party en Stuart Agnew van die Britse UKIP-party. Hulle het uit eie beweging na Suid-Afrika gekom om hulle te vergewis van die situasie rakende vele kommerwekkende kwessies.

Adv. Anton Alberts, VF Plus-voorsitter, het die afvaardiging te woord gestaan en in besonderhede uitgewys hoe die ANC-regering die land in die afgrond in bestuur.

Die boodskap was dat die Mandela-aura wat om Suid-Afrika gehang het sedert 1994 heeltemal verdwyn het. Desperaatheid en kommer onder alle mense het die plek daarvan ingeneem. Dis egter die armes en die minderhede wat die meeste te vrese het van die ANC-regering se wanbestuur.

Daar is onder meer verduidelik hoe die regering die land vernietig met die huidige kragvoorsienings-krisis, die planne rondom onteiening sonder vergoeding (OSV), hoe Regstellende Aksie (RA) en SEB die openbare- en privaat sektore gestroop het van kapasiteit wat tot die huidige inploffings lei, die omvang en wreedheid van plaasmoorde en die onvermoë van die polisie om Suid-Afrikaners in die algemeen te beveilig.

Oor die afvaardiging se reaksie sê adv. Alberts:

“Die ongeloof op hul gesigte is iets wat ek nooit sal vergeet nie. Alhoewel Europa en Brittanje onder geweldige politieke en maatskaplike druk is, het hulle nie gedink dit kan so sleg gaan in ‘n land soos Suid-Afrika nie.

“Hulle was duidelik nie voorbereid op die omvang en diepte van Suid-Afrika se probleme nie. Veral plaasmoorde, die Eskom-kragkrisis en druk op minderhede – soos by Afrikaanse skole – het hulle verstom”.

Die afvaardiging het onderneem om die kwessies verder op te neem in die EU-parlement. Mnr. Lancini het ook onderneem om die sake op te neem binne die Italiaanse regering.

Hy was ook bekommerd oor die feit dat Italiaanse ondernemings alles kan verloor in terme van die ANC se beplande instelling van OSV. Hy was verbaas om te verneem dat die handelsverdrae wat OSV verbied nie hernieu word nie en dat die nuwe Wet op die Beskerming van Beleggings net staatmaak op Artikel 25 van die Grondwet om oorsese beleggings te beskerm en dat die ANC dié artikel nou wil wysig.

Die VF Plus en die afvaardiging het onderneem om verdere gesprekke te voer, veral as die EU en die Italiaanse regering sou besluit om persoonlike sanksies in te stel teen persone in die ANC en EFF weens hul wanbestuur van Suid-Afrika in die algemeen en die instel van OSV.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.