Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Etiese leierskap moet toegepas word, nie net op papier bestaan nie

Die aanvaarding van die Kode vir Etiese Leierskap in Plaaslike Regering in die Ekurhuleni-metro beklemtoon die feit dat integriteit, verantwoordbaarheid en deursigtigheid nie net beleidswoorde mag wees nie. Dit moet daagliks toegepas word in besluite, aanstellings en bestuur.

Etiese leierskap beteken dat onetiese gedrag aangespreek word, dat politieke invloed duidelik geskei bly van administratiewe funksies en dat aanstellings en bevorderings op meriete, bevoegdheid en integriteit moet berus.

Hierdie nuwe kode, wat die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) in 2024 bekendgestel het as deel van die Etiese Leierskapsinisiatief vir Plaaslike Regering, verskil van die bestaande Gedragskode vir Raadslede en die Kode vir Munisipale Amptenare.

Terwyl daardie kodes wetlik afdwingbaar is en op persoonlike gedrag fokus, is die nuwe kode ’n aanvullende, morele en bestuursgerigte raamwerk wat leiers help om ’n etiese kultuur te bou en goeie bestuur te bevorder.

Die VF Plus steun enige beleid wat etiese leierskap bevorder, maar wil beklemtoon dat die ware toets nie in die aanvaarding van dokumente lê nie, maar in die deurlopende toepassing daarvan.

Slegs deur daadwerklike optrede, aanspreeklikheid en integriteit kan plaaslike regering die vertroue van inwoners herstel en ’n kultuur van goeie bestuur vestig.

Die VF Plus sal aanhou om hierdie beginsels te verdedig om te verseker dat etiese leierskap nie ’n teorie bly nie, maar ’n werklikheid in die daaglikse funksionering van die metro.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.