Rustenburgers was hierdie week onaangenaam verras met ‘n kennisgewing van Eskom in ‘n plaaslike koerant, die Herald van 10 Junie 2020, wat inwoners inlig dat die kragvoorsiener beplan om eersdaags kragonderbrekings in die dorp in te stel weens ‘n dispuut oor betaling met die munisipaliteit.
Eskom se optrede volg op ‘n dispuut wat die munisipaliteit met Eskom verklaar het wat reeds sedert 2018 sloer.
Eskom beweer dat ‘n bedrag van R144 miljoen deur die munisipaliteit aan hom verskuldig is. Die munisipaliteit beweer dat die bedrag ter sprake deur Eskom gehef is vir dienste wat nie gelewer is nie.
Die munisipaliteit het die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) ook versoek om by die dispuut in te gryp.
Die munisipale bestuurder van Rustenburg, Victor Kekana, het die VF Plus hierdie week ingelig dat Eskom die munisipaliteit kort na die ramptoestand afgekondig is, in kennis gestel het dat aandag aan die dispuut gegee sal word sodra die Covid-19-inperkings opgehef is.
Dit is onaanvaarbaar dat die Rustenburg-gemeenskap onder onnodige druk geplaas word weens die klaarblyklike onbeholpenheid van staatsinstellings. Die dorp se ekonomie ervaar reeds buitengewoon groot uitdagings en kan nie enige verdere skokke en onsekerheid verduur nie.
Die VF Plus monitor die situasie en sal inwoners op hoogte hou van enige nuwe verwikkelings.
Navrae: 076 819 0648