Die VF Plus het vandag die erkenning van die Kleinfontein-nedersetting as kultuurgemeenskap deur die Gautengse Wetgewer verwelkom, sê Jaco Mulder, VF Plus-LPW in Gauteng.
Dit volg na ‘n omstrede ondersoek wat tydens November 2012 na die beweerde nie-toelating van SAPD-lede tot die perseel van Kleinfontein, vandag in verslagvorm voor die Wetgewer gedien het.
Mulder het die verslag as positief bestempel en gesê dat daar niks gekom het van die aanvanklike aggressie waarmee die portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid die ondersoek, wat ingevolge die Wet op Komitee-ondersoeke 8 van 2009 gemagtig is, aangepak het nie.
Mulder wat deurgaans ‘n lid van die ondersoekkomitee was, het verder gesê dat talle verkeerde persepsies oor Kleinfontein in die proses uitgeklaar is wat die tafel dek vir Kleinfontein om as kultuurgemeenskap binne die raamwerk van die Suid-Afrikaanse grondwet te kan voortbestaan.
Die VF Plus het tydens die grondwetskrywende proses van 1996 daarin kon slaag om artikel 185 en 235 in die Suid-Afrikaanse grondwet in te skryf wat ondermeer die regte van geloof-, taal- en kultuurgemeenskappe erken asook die reg op selfbeskikking.
Die VF Plus is daartoe verbind om die reg tot selfbeskikking van volke en spesifiek van die Afrikaner te bevorder wat die voortgesette bestaan van ondermeer gemeenskappe soos Orania en Kleinfontein verseker.
Jaco Mulder, LPW
082 466 3786