fbpx
Vryheidsfront Plus

Erfenisdag: Almal in Suid-Afrika se erfenis moet gerespekteer word

Suid-Afrika is in ‘n unieke posisie wat erfenis aanbetref, juis vanweë sy groot verskeidenheid mense, kulture en tale. Dit word goed geïllustreer deur die feit dat die land elf amptelike tale het.

Saam met hierdie ryke erfenis kom ook groot uitdagings aan die gemeenskappe van die land om mekaar se verskille en in die besonder hul kultuurverskille te respekteer en vir die regering om hieraan erkenning te gee.

In ‘n diverse samelewing soos in Suid-Afrika is dit belangrik dat mense van die onderskeie kultuurgroepe erkenning moet gee aan ander se nalatenskap en gebruike. Een groep moet nie probeer om sy eie gebruike en standpunte op ‘n ander af te dwing nie.

Die doel en betekenis van Erfenisdag is juis om die klem te laat val op hierdie verskeidenheid kulture en om erkenning te gee aan elkeen om sodoende nasiebou te bevorder.

Onder ‘n ANC-regering gebeur dit ongelukkig nie. Daar is ‘n groot aanslag teen Afrikaans wat nie net die taal van die Afrikaner is nie, maar ook van die meerderheid bruinmense en sowat 800 000 swartes.

Taal is ‘n belangrike aspek van erfenis en definieer ‘n volk tot ‘n groot mate. Dit is ‘n samebindende faktor vir mense wat in hul eie moedertaal bid, werk en sosiaal verkeer. Moedertaal is die gom wat ‘n gemeenskap aan mekaar bind.

Die ANC-regering lewer net ‘n lippediens aangaande respek vir die onderskeie kulture en oor die belangrikheid van Erfenisdag aangesien dit in die praktyk nie nagekom word nie.

Die Afrikaner het deur die geskiedenis heen bewys hy het altyd ‘n groot bydrae gelewer in die opbou van die land en hy is bereid om hierdie erfenis voort te sit.

Die regering moet nogtans daarvan kennis neem dat die Afrikaner sal opstaan vir sy regte soos die handhawing van sy taal soos by universiteite waar Afrikaanssprekers die volste reg het om universiteite van hul taal te hê.

Hierdie aanspraak moet erken word, want dit is geldig. Dit sal ‘n groot bydrae lewer tot nasiebou in Suid-Afrika.

Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.