Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Enige plan vir digitale ekonomie is sinloos met Gauteng wat steeds staatmaak op ʼn kerslig-gedrewe ekonomie

Die VF Plus het die ANC-regering in die Gautengse wetgewer daaraan herinner dat enige plan oor ‘n digitale ekonomie geen sin maak indien daar steeds staat gemaak word op kerslig om die ekonomie te dryf nie.

Dié waarskuwing is gerig tydens ‘n debat vandeesweek in die Gautengse wetgewer oor die digitale ekonomie wat reeds wêreldwyd posgevat het.

Die voorvereiste vir ‘n digitale ekonomie is ‘n betroubare basis van kragvoorsiening wat tans nie in Gauteng of landwyd moontlik is nie weens die ANC se roekelose bestuur van Eskom.

Die wêreld het reeds die vierde industriële rewolusie betree terwyl Gauteng en die res van die land terugbeweeg na kerslig.

Die vierde industriële rewolusie behels die mensdom se voortstorm na toekomstige kubernetiese gemeenskappe.

Dit is waar die aanlyn-wêreld van rekenaars verbind gaan word met die fisieke wêreld van slim-huise, selfbestuur-motors, diens-robotte en ander dienste en produkte wat gelewer gaan word deur middel van geprogrammeerde kwasi-denkende masjiene.

Die feit dat daar reeds wêreldwyd gepraat woord van die koms van die vyfde industriële rewolusie, onderskraag opnuut hoe ver Suid-Afrika agter is.

Die ontploffing in die ontwikkeling van kunsmatige intelligensie het die wêreld nogal ontkant gevang, maar daar is reeds wye konsensus dat dit ‘n enorme impak gaan hê op die ekonomiese en arbeidslandskappe regoor die moderne wêreld.

Kunsmatige intelligensie gaan die mens se beste vriend word, maar kan ook ‘n formidabele vyand word indien die nadele van ekonomiese- en arbeidsimpakte die voordele oor ‘n medium- en langtermyn-fase oorskry.

Daarom behoort die ekonomiese ontwikkelingskomitee van die Gautengse wetgewer ‘n indiepte-studie te doen oor die moontlike voordele en nadele van kunsmatige intelligensie vir die provinsie.

Daar moet ook gekyk word of enige veiligheidsregulering sinvol sou wees om kunsmatige intelligensie wat ‘n eksistensiële gevaar inhou, te beperk.

Uiteindelik kan daar in dié stadium tong-in-die-kies gesê word dat sou enige vorm van kunsmatige intelligensie ‘n gevaar vir die mensdom inhou soos uitgebeeld in talle wetenskap-fiksie films, die robotte weens ʼn gebrek aan krag gewis nie Gauteng of Suid-Afrika sal kan oorneem nie.

Rekenaarprogramme en denkende robotte kan immers nie werk met kersligkrag nie. Die Suidpunt van Afrika is straks die enigste plek op aarde waar die robot-opstand teen die mensdom oorleef sal word.

Die wêreld ontwikkel terwyl Suid-Afrika terugbeweeg na die pre-industriële tydvak.

Navrae: 082 291 3117

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.