Boere in Suid-Afrika is onder beleg en niemand kan hulle verkwalik indien hulle die reg in eie hande neem om hulself te beskerm nie.
Suid-Afrika het pas ’n bloedige week beleef wat plaasmoorde aanbetref.
Agt boere is in een week vermoor. Dit is dieselfde hoeveelheid as wat in die eerste drie maande van hierdie jaar vermoor is luidens die polisie se laaste misdaadstatistiek.
Die regering sê te maklik oor plaasmoorde dit is net gewone misdadigheid. Daar word te lank reeds agter hierdie verskoning geskuil.
Dit is nie gewone misdadigheid wanneer slagoffers van plaasmoorde aan die brand gesteek word terwyl hulle nog leef nie.
Dit is ook nie gewone misdadigheid wanneer ses aanvallers met aanvalsgewere soos AK47’s boere aanval en vermoor nie.
Dit landbougemeenskap is onder beleg. Statistiek van die afgelope vier jaar wys dat daar een plaasmoord vir elke agt aanvalle is.
Dit gee perspektief aan die enorme omvang van plaasaanvalle.
Dit maak dit ook duidelik dat die moordsyfer veel hoër sou wees indien die landbougemeenskap nie hul eie veiligheidsmaatreëls in plek gestel het nie.
Die VF Plus doen ’n beroep op die minister van polisie om te sorg dat plaasaanvalle baie deeglik ondersoek word aangesien dit duidelik deel vorm van georganiseerde misdaad.
Plaasaanvalle moet ’n prioriteit wees vir die polisie. Tot nou toe is dit nie. Die polisie se landelike veiligheidsplan is teoreties goed, maar in die praktyk word dit nie uitgevoer nie.
Ek wil dit duidelik stel dat indien daar nie vinnige optrede van die polisie kom om erns te maak met plaasaanvalle nie, niemand verbaas moet wees indien die boere toenemend die reg in eie hande begin neem nie.
Niemand kan mense verkwalik indien hulle hulself teen bloedige aanvalle beskerm nie.
Navrae: 083 627 4397 / 065 801 7216