Dit is verstommend hoe die burgemeester van Emfuleni, Jacob Khawe, nie die erns van dié munisipaliteit se benarde finansiële situasie besef nie en voortgaan om studiebeurse aan minderbevoorregte studente uit voorheen benadeelde groepe aan te bied.
Terwyl burgemeester Khawe enkele maande gelede nog in ‘n roerende pleidooi gepleit het dat adjunk-president David Mabuza Emfuleni van ondergang moet red, nooi hy nou matriekleerlinge in ‘n koerantadvertensie om aansoek te doen om ‘n burgemeester-studiebeurs.
Wit minderbevoorregte leerlinge word klaarblyklik uitgesluit aangesien leerlinge van “voorheen benadeelde” groepe aangemoedig word om aansoek te doen.
Dit is onaanvaarbaar dat daar so openlik teen sukkelende wit kinders gediskrimineer word, en die harde werklikheid is boonop dat Emfuleni nie die geld het om aan studiebeurse te bestee nie.
‘n Rede hiervoor is dat korrupsie en bedrog hoogty vier in Emfuleni met ongekontroleerde oorbesteding aan armlastige en nie-betalende inwoners wat enorme verliese en oorbesteding tot gevolg het.
Die VF Plus besef dat behoeftige mense gehelp moet word, maar dan moet dit oor die kleurlyn geskied sonder bevoordeling op ‘n rassegrondslag. Die harde realiteite van ‘n begroting moet ook die bepalende rol hierin speel.
Die VF Plus gaan die voortgesette roekelose optrede van die burgemeester nie duld nie en gaan 'n brief aan die speaker skryf waarin die burgemeester versoek sal word om hierdie aksie summier stop te sit.
Kontaknommer: 076 616 2124