Die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit is op sy knieë deurdat Randwater slegs die helfte van die aangewese water vir die munisipaliteit deurlaat weens wanbetaling.
In sekere gebiede in Emfuleni is krane reeds droog om tienuur die oggend omdat reservoirs en watertenks leegloop.
Inwoners is nie eens in staat om huishoudelike toerusting wat met water werk, aan die gang te hou nie weens die lae waterdruk.
In die nywerheidsgebied van Vanderbijlpark is daar ʼn onderneming wat al sedert 10 Junie sonder water is.
In ʼn ingrypingsooreenkoms tussen Emfuleni en Randwater, het die waterverskaffer onderneem om oor drie jaar waterlekkasies in die munisipaliteit te herstel.
ʼn Totaal van 400 lekkasies is aangemeld, waarvan Randwater slegs 28 in twee jaar herstel het. Dit is dus duidelik dat Randwater ook nie oor die vermoë beskik om sy rol as grootmaatwaterverskaffer te vervul nie.
Randwater veroorsaak nie net watertekorte nie, maar ook diensleweringsprobleme met sy sewe maande lange bevriesing van Emfuleni se lopende bankrekening.
Elke maand hef Randwater die bevriesing net op sodat salarisse van R140 miljoen betaal kan word.
Dit is onregverdig dat Randwater getroue belastingbetalers straf vir die ANC-beheerde Emfuleni se sondes.
Die VF Plus het al telkemale die ANC gewaarsku oor sy wanadministrasie van die munisipaliteit en dat dit gaan lei tot die totale ineenstorting van dienslewering.
Emfuleni verdien beter as die ANC.