Die VF Plus in die ANC-beheerde JB Marks-plaaslike munisipaliteit (Potchefstroom en Ventersdorp), dring aan op ingryping van die provinsiale regering in die onreëlmatige aanstelling van ʼn nuwe munisipale bestuurder in dié munisipaliteit.
Die party het ʼn dringende skrywe hieroor gerig aan Noordwes se LUR vir samewerkende regering, behuising en tradisionele sake (Coghsta), Nono Maloyi.
Dit volg nadat die bestuurder, Kgomotso Kumbe, se aanstelling tydens ʼn munisipale raadsvergadering Dinsdag op aandrang van die ANC, die EFF en die Patriotic Alliance (PA) bekragtig is. Die VF Plus het sterk kapsie gemaak teen die aanstelling.
Kumbe, wat reeds as waarnemende hoof finansiële beampte in die munisipaliteit in omstredenheid gedompel was, se aanstelling is gekenmerk deur proseduriële onreëlmatighede en bewerings van ongerymdhede.
Die waarnemende munisipale bestuurder, Sandile Tyatya, het in die raadsvergadering selfs aangekondig dat hy strafregtelike klagte teen Kumbe by die polisie ingedien het weens tender-ongerymdhede en ʼn botsing van belange.
Kumbe was ook aan die stuur van sake met die onreëlmatige aanvaarding van ʼn onbefondsde begroting vir die munisipaliteit verlede jaar.
Die VF Plus het tydens die vergadering ʼn verdeling van stemme afgedwing sodat die rekord duidelik kan aandui watter raadslede hulself met die onreëlmatighede vereenselwig.
Die party het die ANC en ander raadslede daarop gewys dat hulle persoonlik aanspreeklik gehou sal word vir hul steun aan die onreëlmatighede in die munisipaliteit.
Dit is ʼn skande dat die ANC en sy meelopers volhard met onreëlmatige aanstellings van senior bestuurslui met ʼn bewese rekord van onbekwaamheid en ongerymdhede in JB Marks, ten koste van inwoners.
Die ooglopende verval in die munisipaliteit weens hierdie wanpraktyke spreek vanself.
Die gemeenskappe van Potchefstroom en Ventersdorp ly reeds lank onder die korrupsie en wanbestuur van opeenvolgende ANC-administrasies.
Die VF Plus sal aanhou druk toepas om professionele bestuur in die munisipaliteit te herstel. Die inwoners van JB Marks verdien beter as die ANC/EFF/PA-alliansie in die raad.


