Die polisie se buitensporige misbruik van mag om drie Vrystaatse boere in hegtenis te neem, is onaanvaarbaar en die VF Plus gaan aandring op antwoorde oor die voorval.
Luidens ’n mediaberig vandag (Netwerk24: Woede oor klopjag…) het sowat 30 lede van die polisie en die Valke in 13 voertuie gisteroggend ’n klopjag uitgevoer op die plaas van twee susters wat in hegtenis geneem is. Hulle boer in die Verkeerdevlei-distrik by Theunissen.
Luidens die berig en inligting van die boere se regsverteenwoordiger, mnr. Jaco Dempsey, is die klopjag sonder ’n lasbrief uitgevoer en die vroue is ure lank in snerpende koue sonder warm klere agter in ’n vangwa aangehou.
Al drie het vandag in die landdroshof op Brandfort verskyn op aanklagte van poging tot moord, ontvoering, aanranding en regsverydeling.
Dit het gevolg op ’n poging van die vroue om ’n siviele inhegtenisneming uit te voer op ’n man en sy twee tienerseuns wat hulle van veediefstal verdink het. Die man het gevlug en twee skote is geskiet. Die man is nie getref nie.
Dit is algemeen bekend dat veediefstal ’n reuse probleem in die omgewing is. Die betrokke boere het onlangs groot verliese met die diefstal van skape gelei.
Die VF Plus sal hom nie uitlaat oor die meriete van die saak nie, maar vind die buitensporige magsvertoon onaanvaarbaar. Dit is tekenend van ’n polisiestaat.
Dit laat ook die vraag ontstaan waarom daar nie tydens plaasaanvalle met so ’n groot mag op die aanvallers jag gemaak word nie.
In baie gevalle moet die boere self optree ná ’n plaasaanval of plaasmoord om die aanvallers te volg en in hegtenis neem selfs voordat die polisie opdaag.
Die VF Plus sal die hoof van die Valke, genl. Godfrey Lebeya, vra om te verduidelik waarom die Valke gebruik word om boere in hegtenis te neem en waarom hulle in die betrokke voorval aangewend is.
Die party sal ook aan die minister van polisie, Bheki Cele, vra om inligting te verskaf oor die optrede en suksesse van die Verkeerdevlei-polisie rakende veediefstal.
Die aangeklaagdes is aangeraai om Opod te vra om die aangeleentheid te ondersoek en om siviele eise teen die polisie in te stel.
Hierdie voorval herinner aan die bloulig-saak waar die polisie ’n skrikbewind voer teen die gewone publiek terwyl misdadigers en veediewe oënskynlik sonder vrees optree.


