Talle verkeerskantore en toetssentrums in die Vrystaat ervaar tans probleme wat padgebruikers nadelig beïnvloed wanneer hulle poog om verkeerswette na te kom.
Die VF Plus het in ʼn brief aan die departement van gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer, geëis dat wanfunksionele toetssentrums en verkeerskantore reggeruk word.
Die departement is nie net verantwoordelik vir dienste aan padgebruikers nie, maar moet ook inkomste genereer wat weer op padinfrastruktuur bestee kan word.
In die vorige boekjaar kon die departement nie daarin slaag om sy teiken van meer as R1 miljard uit onder meer lisensiehernuwings te behaal nie.
Die effek daarvan is dat die provinsie, wat reeds met swak padinfrastruktuur sit, met minder geld vir instandhouding en opgradering moes klaarkom.
Die VF Plus eis beter bestuur by verkeerskantore in onder meer Parys, Frankfort, Wesselsbron, Petrus Steyn, Lindley, Bethlehem, Boshoff en Hertzogville, waar verkeersentrums gesluit is, rekenaars oud is en stelsels nie werk nie.
Ander probleme behels padwaardigheidstoetse wat nie gedoen kan word nie, kantore en geriewe wat in ʼn haglike toestand is en dokumentasie vir hernuwings of aansoeke wat eenvoudig nie beskikbaar is nie.
Die VF Plus het ook klagtes ontvang van onbeskofte en onprofessionele gedrag van amptenare by die sentrums wat aangespreek moet word.
Vrystaatse padgebruikers is reeds die slagoffers van gevaarlike paaie weens die ANC-regering se jarelange versuim om deeglike instandhouding in die provinsie te doen.
Vrystaters verdien behoorlike verkeersdienste en ʼn veilige padnetwerk. Vir ware verandering is die antwoord egter om van die ANC ontslae te raak.