Die VF Plus verwelkom die Ekurhuleni-metro se besluit om die herkoppelingstarief vir gesteelde kragkabels af te skaf — ’n belangrike oorwinning waarvoor die VF Plus lank gestoei het.
Die proses en vereistes wat nou gevolg moet word om die kabels te laat vervang, is onnodig tydrowend en kan inwoners wat reeds onder kragonderbrekings ly verder verontrief.
Aan die positiewe kant is dit ook daarop gemik om wanbetalers en mense wat met kragmeters peuter, vas te vat.
Om vir die diens te kwalifiseer, moet inwoners:
• Kabeldiefstal aanmeld by die metro se energiedepartement.
• ’n Verwysingsnommer van die oproepsentrum voorsien.
• ’n Polisieverklaring en saaknommer indien.
• ’n Nie-agterstallige munisipale rekening hê of uitstaande bedrae eers betaal.
• In die geval van voorafbetaalde meters, moet voldoen word aan sekere verifikasieprosesse.
• ’n Vrywaring onderteken wat die metro onthef van enige aanspreeklikheid vir verliese of skade wat opgedoen word tydens herstelwerk.
Van hierdie vereistes, veral dié wat verband hou met die indien van polisieverklarings, saaknommers en die ondertekening van ’n vrywaring, is ‘n onnodige las en verpligting op inwoners wat reeds die gevolge van kabeldiefstal dra.
Om van slagoffers te verwag om diefstal van munisipale infrastruktuur aan te meld, dit te dokumenteer, en dan nog die metro van enige aanspreeklikheid te onthef, is onregverdig en onaanvaarbaar.
Die VF Plus eis duidelikheid oor of inwoners wat in die verlede onregverdig vir herkoppeling moes betaal, geregtig sal wees op terugbetalings of krediete op hul rekeninge indien ‘n bewys van sodanige betalings gelewer kan word.
Net so onverklaarbaar is die feit dat ondernemings van hierdie voordeel uitgesluit word — ondanks die feit dat kabeldiefstal alle sektore raak.
Geen rede is verskaf vir hierdie onderskeid nie en die VF Plus doen ’n beroep op die metro om die voordeel billik uit te brei na alle betrokke belastingbetalers.
Hoewel die VF Plus trots is daarop dat die party suksesvol geveg het vir die afskaffing van die herkoppelingstarief, is die party steeds bekommerd oor die buitensporige burokratiese vereistes wat nou op inwoners afgedwing word.
Die metro moet nie een onreg vervang met ’n ander nie. Die VF Plus sal aanhou om te veg vir billike, praktiese en toeganklike oplossings wat die mense van Ekurhuleni werklik dien.


