Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Ekurhuleni mors geld terwyl dienslewering ineenstort

Die Ekurhuleni-metro se kwartaalverslag vir Oktober tot Desember 2025 skets ’n ontstellende prentjie van vermorsing, verkeerde prioriteite en ’n metro wat geld uitgee sonder om dienste te lewer.

Die VF Plus het reeds tydens die begrotingsproses gewaarsku dat voortdurende tariefverhogings onvolhoubaar is omdat inwoners dit eenvoudig nie kan bekostig nie.

Die jongste verslag bevestig dit: Die metro het beoog om R12,5 miljard in te vorder, maar slegs R10,74 miljard is ingevorder. Dit beteken R1,76 miljard het nooit die metro se bankrekening bereik nie.

Die invorderingskoers van 85,93% is ver onder die nasionale tesourie se teiken van 90% en wys duidelik dat inwoners nie onwillig is om te betaal nie, maar finansieel oorlaai word.

Indien die teiken bereik is, kon die geld aangewend word vir padherstelwerk, parkonderhoud, rioolwerke en basiese instandhouding.

In stede daarvan is die metro se kontantvloei onder ernstige druk, met onttrekkings wat daaglikse bedrywighede aan die gang moet hou.

Krediteure beloop R10,49 miljard, waarvan R6,46 miljard aan Eskom en R900 miljoen aan die East Rand Water Care Company (ERWAT) verskuldig is.

Die grootste rooi vlag bly elektrisiteit met die invorderingskoers op Eskom-elektrisiteit wat slegs 23,24% is. Die metro koop krag aan, maar kry nie die geld terug nie.

Terwyl dienste verval, het oortydbesteding met 46% bo die begroting ontplof. Waar R171,8 miljoen begroot is, is R250,3 miljoen bestee, ‘n oorskryding van R78,5 miljoen.

Die departemente van gemeenskapsveiligheid, ERWAT, paaie en vervoer, afvalbestuur en energie het die grootste oortydbesteding gehad.

Daarby het gekontrakteerde dienste die begroting met R517 miljoen oorskry, terwyl “ander uitgawes” R103 miljoen oor die begroting was.

Hierdie besteding toon geen sigbare waarde nie, terwyl inwoners die verval daagliks beleef.

Boonop is slegs 42,4% van die infrastruktuurbegroting teen Desember bestee, wat projekte vertraag en instandhouding uitstel. Die verval van infrastruktuur vererger en inwoners sien geen verbetering nie.

Dit is duidelik dat Ekurhuleni nie soseer ’n tekort aan geld het nie, maar ’n tekort aan bestuur, dissipline en aanspreeklikheid. Swak invordering, onbeheerde oortyd, oormatige kontrakte en verkeerde prioriteite is die kern van die krisis.

Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen vir beter invordering, minder vermorsing, instandhouding en werklike dienslewering sodat inwoners uiteindelik waarde ontvang vir die geld wat hulle betaal.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.