Die VF Plus het ingegryp om inwoners en sake-eienaars van die Bredell-landbouhoewes te help wat deur die Ekurhuleni-metro geteiken word met buitensporige administratiewe boetes.
Van die hoewe-eienaars is met tot R775 000 beboet vir die beweerde oortreding van bouregulasies. Die metro het reeds sowat R10 miljoen se boetes aan hoewe-eienaars uitgereik.
Hierdie boetes word uitgereik sonder behoorlike konsultasie, deursigtigheid of ʼn regverdige proses, wat grondeienaars met verlammende finansiële strawwe laat vir die gemengde gebruik van hul grond wat dikwels al oor jare strek
Die metro het 188 sogenaamde “oortredings” in Bredell geïdentifiseer, ten spyte daarvan dat die metro erken dat hy slegs een bou-inspekteur en een stadsbeplanningsinspekteur het wat aan die gebied toegewys is.
Dit laat ernstige vrae ontstaan oor die geldigheid van die afdwingbaarheidsproses en of die metro voldoen aan nasionale wetgewing soos die Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruiksbestuur (SPLUMA) en die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid, wat billikheid, konsultasie en redelike administratiewe gedrag vereis.
Die Bredell-eiendomseienaarsvereniging, wat sowat 50 grondeienaars verteenwoordig, het die VF Plus formeel om hulp genader.
Die VF Plus, wat ook Maandagaand by die eiendomseienaarsvereniging se vergadering teenwoordig was, het die kliëntediensbestuurder, Khosy Dhladhla-Mbatha, wat die vergadering gelei het, gevra vir die hersiening van alle boetes.
Die party het verder aangedring op die bekendstelling van ‘n regulariseringsprogram om grondeienaars in staat te stel om hul grondgebruik wettiglik te formaliseer eerder as om strafmaatreëls in die gesig te staar.
Die VF Plus sal ook die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Jacob Mamabolo, nader om te verseker dat die Ekurhuleni-metro aanspreeklik gehou word vir sy administratiewe gedrag en nienakoming van grondwetlike verpligtinge.
Die VF Plus staan ferm saam met die inwoners en klein ondernemings van Bredell in hul stryd vir billikheid, deursigtigheid en respek vir eiendomsregte.
Die VF Plus sal voortgaan om wetsgehoorsame burgers teen munisipale oorskryding te verdedig en ‘n gebalanseerde benadering tot ruimtelike ontwikkeling in Ekurhuleni te bevorder.


