Die tyd het aangebreek dat Suid-Afrika wys hy wil met opregtheid blywende vrede in die Midde-Ooste help bewerkstellig en dit kan net gedoen word deur die normalisering van diplomatieke betrekkinge tussen Suid-Afrika en Israel.
In die lig van die feit dat daar ‘n vredesooreenkoms gesluit is met ‘n skietstilstand, die vrylating van krygsgevangenes en ontvoerdes en planne om Gaza weer te herbou, moet Suid-Afrika sy volle rol speel om betrokke te wees in die proses. Hierdie is ‘n unieke geleentheid om dit te doen.
‘n Noodsaaklike vertrekpunt hiervoor vir Suid-Afrika is om sy verhoudinge met Israel te normaliseer deur ‘n ambassade wat Suid-Afrika kan verteenwoordig.
Die afwesigheid van ‘n ambassadeur sedert die onttrekking in 2023 toon ‘n totale gebrek aan diplomatieke toewyding om die konflik te help oplos.
Amerika het die Suid-Afrikaanse regering verlede jaar skerp gekritiseer oor onder meer die land se besluit om Israel by die Internasionale Strafhof te verkla weens volksmoord in Gaza.
Die hervatting van diplomatieke bande deur Suid-Afrika sal ‘n baie positiewe sein aan die VSA stuur in hierdie kritieke stadium waarin gesprekvoering plaasvind om handelsverhoudinge tussen die lande te normaliseer.
Die VF Plus verwelkom daarom ook die Suid-Afrikaanse regering se reaksie op die aankondiging van ‘n vredesplan tussen Israel en Hamas wat luidens ‘n verklaring die weg baan vir die totstandkoming van blywende vrede.


