Opposisiepartye, waaronder die VF Plus, het ’n belangrike oorwinning behaal teen die ANC/CSA/EFF-regerende koalisie van die Dr. Beyers Naudé-plaaslike munisipaliteit deur ʼn beplande oorsese reis van drie senior amptenare te keer.
Dit is ʼn duidelike teken dat verantwoordbare bestuur en dienslewering voorrang moet geniet bo luukse oorsese uitstappies.
Huawei Technologies Co. Ltd het die munisipale bestuurder en die direkteure vir finansies en infrastruktuur genooi om China vanaf 20 Oktober tot 18 November te besoek.
Die VF Plus het dié uitnodiging as onvanpas en ontydig bestempel, veral in die lig van die munisipaliteit se ernstige watertekorte, infrastruktuurverval en finansiële druk.
Inwoners sukkel daagliks met gebrekkige dienslewering, onbetroubare water- en kragvoorsiening en vervalle paaie. Tog wou die munisipale leierskap oorsee gaan rinkink – ’n besluit waarvoor die raad nou ʼn stokkie gesteek het.
Hierdie stemming is ’n bewys dat gesonde verstand en gemeenskapsbelange steeds ’n stem het in die raad.
Die ANC/CSA/EFF moet aanspreeklik gehou word vir die wanadministrasie wat die dorpe in die munisipaliteit lamlê en nie inwoners se belange voorop stel nie.
Die VF Plus sal voortgaan om die belange van belastingbetalers te prioritiseer en druk uit te oefen vir dienslewering wat die inwoners van Aberdeen en omgewing waarlik dien.


