Die Ekurhuleni-metroraad het weer sy onvermoë om die gebied suksesvol te bestuur onderstreep met die besluit om 42 straatname en agt bekende bakens se name na ANC-politieke ikone en anti-apartheidsaktiviste te verander. Dit is ‘n onnodige vermorsing van belastinggeld.
Hierdie doelbewuste vermorsing kom in ‘n tydperk waar die metro reeds sukkel om infrastruktuur in stand te hou. Dienslewering gaan agteruit en informele nedersettings het na twintig jaar steeds grondpaaie.
Dit is duidelik dat die ANC nie substantiewe verbeteringe kan maak aan die inwoners se lewens nie en nou moet terugval op die strategie van die gee van simboliese brood by die afwesigheid van werklike brood. Dit sal egter nie die kreeftegang van die ANC in Ekurhuleni keer nie, aangesien die kiesers al deur die vals gebare begin sien.
Name wat in die slag gaan bly, is die bekende Gilloolys-wisselaar wat die N3, N12 en R24-deurpaaie bymekaar laat aansluit. Die wisselaar sal voortaan bekendstaan as die George Bizos-wisselaar.
Olifantfonteinsweg sal Winnie Madikizela Mandela-weg heet en die Van Buren-afrit in Bedfordview die Thabo Mbeki-afrit. Die bekende Barbaraweg sal vernoem word na Lazarus Mawela, ‘n aktivis en stigter van die Black People’s Convention.
Die Germiston-regeringsgebied sal bekend staan as die OR Tambo-regeringsgebied en die Springs-teater sal na die akteur Ken Gampu vernoem word.
Die VF Plus dring daarop aan dat Ekurhuleni-metroraad na inwoners luister wat reeds versoekskrifte en voorleggings teen die naamsverandering aan die raad voorgelê het. Hulle stemme moet gehoor word. Die VF Plus het gedurende 'n raadsvergadering op 18 September teen die besluit gestem.
Die begrotingsbedrag vir die naamsverandering is nie gedurende die vergadering bekend gemaak nie en verdere gesprekke sal op provinsiale en nasionale regeringsvlak moet plaasvind om die besluit deur te voer.
Kontaknommer:072 217 1951