Die VF Plus verwerp die Ekurhuleni-metro se konsepbegroting vir die 2025/26-finansiële jaar en beskou dit as ʼn oorlog teen belastingbetalers en ʼn begroting wat geen groei of stabiliteit bied nie.
Die begroting is ʼn erkenning van finansiële verval, onoordeelkundige tariefverhogings en ‘n voorbeeld van ‘n munisipaliteit wat beheer verloor het. Die begroting straf bloot sy belastingbetalers.
Onder die vaandel van “finansiële volhoubaarheid” word reuse tariefverhogings op inwoners afgedwing, ten spyte van gebrekkige dienslewering.
Die voorgestelde tariefverhogings is as volg:
• Water: +15%
• Sanitasie: +10%
• Elektrisiteit: Tot +12.74% (Nersa)
• Vullisverwydering: +6%
Inwoners moet meer betaal, maar kry minder: Wateronderbrekings, kragonderbrekings, slaggate, vervalle infrastruktuur, en ’n metro waar dienslewering stilstaan.
Met ‘n inforderingskoers van 86.52% aan die einde van die derde kwartaal van die 2024/25-finansiële begroting bly dit steeds ver onder die begrotingsteiken van 90%. Die metro se likiditeit is swak en sy afhanklikheid van tariefverhogings is nie volhoubaar nie.
Meer as R2 miljard per jaar gaan verlore weens oormatige verbruik deur sogenaamde behoeftiges wat onbeperkte toegang het tot gratis dienste, sonder enige beheer of monitering.
Die metro het duidelik geen vermoë of politieke wil om hierdie misbruik aan te spreek nie.
Alhoewel die begroting spog met ses sogenaamde “burgemeesterspilare”, is daar geen konkrete plan, geen begrotingswaarborge en geen waarneembare vordering in enige van die gebiede soos infrastruktuur, onderhoud of ekonomiese groei nie.
‘n Dienslewering- en begrotingsimplementeringsplan is nie tydens die vergadering aan die raad voorgelê nie en tog word daar van raadslede verwag om ‘n R65,5 miljard begroting goed te keur.
Die VF Plus steun ook nie die uitkoms van die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) se openbare deelname proses in April nie. Die insette van die gemeenskap is bloot geïgnoreer en nie in die finale dokument vervat nie.
Die VF Plus eis:
• Onmiddellike bevriesing van die voorgestelde tariefverhogings.
• ’n Forensiese oudit oor onbeheerde verbruik van gratis dienste.
• Dat belastinggeld aangewend word aan die instandhouding en opgradering van infrastruktuur en nie aan oordrewe salarisse nie.
Hierdie begroting is nie geloofwaardig, regverdig of in belang van Ekurhuleni se inwoners nie. Die VF Plus sal aanhou veg vir finansiële dissipline, aanspreeklikheid en diens aan wetsgehoorsame inwoners.


