Die Ekurhuleni-metroraad (Boksburg, Alberton, Benoni, Kempton Park, Springs, Germiston, Brakpan, Edenvale, Nigel en omliggende gebiede) het beslis nie die krimpende ekonomie en die uitwerking van Covid-19 op inwoners in berekening gebring met die goedkeuring van die onrealistiese 2021/22-finansiële begroting nie.
Dienslewering in die metro verswak daagliks en ‘n begroting wat min voorsiening maak om dienslewering te verbeter, is rampspoedig.
Verskonings dat die Covid-19-pandemie verkwalik moet word vir swak dienslewering, is onaanvaarbaar. Dienslewering het lank voor die pandemie agteruitgegaan en die finansiële krisis waarin die metro verkeer, kan nie net voor die deur van Covid-19 gelê word nie.
Terwyl inwoners van die metro gereeld geteister word deur kragonderbrekings weens swak bestuur en min of geen onderhoud, styg elektrisiteitstariewe vir huishoudings met 14,59% en vir grootmaat-verbruikers met 17,8%.
Inwoners gaan 7% meer opdok vir vullisverwydering wat in sommige gebiede glad nie plaasvind nie.
Riolering styg met 8%, maar inwoners in onder meer Kemptonpark kan nie leef met die stank van riool wat deur hul erwe vloei en die naburige vleiland besoedel nie.
Die volgende tariefverhogings is goedgekeur:
• Water – 8% (2% hoër as Rand Water se verhoging van 5,8%)
• Riolering – 8% vir huishoudings en 17% vir industrieë
• Vullisverwydering – 7%
• Elektrisiteit – 14,59% vir huishoudelike verbruikers en 17,8 % vir grootmaat-verbruikers
• Graf- en begrafnisdienste – 6% vir inwoners wat uiters onregverdig is in ‘n tydperk wat die aantal sterftes styg weens die Covid-19-pandemie.
• Munisipale bustariewe – 4.15%
Die VF Plus kan nie ‘n begroting steun wat nie die beste belange van inwoners en belastingbetalers op die hart dra en dienslewering nie ‘n prioriteit maak nie.
Inwoners van Ekurhuleni het in Oktober vanjaar met die plaaslike regeringsverkiesing die geleentheid om saam met die VF Plus op te staan en ‘n sterk boodskap aan die ANC te stuur dat swak dienslewering en die algehele verval van die metro nie langer geduld sal word nie.