Die burgemeester van die Ekurhuleni-metro, Nkosindiphile Xhakaza, se aankondiging dat hy tydelik die vaste tarief van R126 (R109 plus BTW) op krag ophef, is net ʼn rookskerm om die inwoners van Tembisa te kalmeer.
Inwoners het Sondagnag verskeie toegangsroetes met brandende buitebande afgesper en swaar gewapende polisie- en metropolisielede is steeds op die toneel om die situasie in bedwang te probeer bring.
Die burgemeester het inwoners van Tembisa vanmiddag toegespreek, maar hulle was steeds nie tevrede met die tariefverhoging nie en Xhakaza het belowe dat hy met Eskom en Nersa in gesprek sal tree.
Die burgemeester se belofte om die vaste tarief tydelik te skrap is nie deur die raad goedgekeur nie en is dus ongrondwetlik. Sy besluit dra geen regskrag en kan nie ʼn raadsbesluit herroep nie.
Vals beloftes kan nie gemaak word weens paniek oor ʼn protesoptrede nie.
Die VF Plus het ʼn beroep op die burgemeester gedoen om nie die inwoners van Ekurhuleni-metro verder te mislei nie, maar om eerder binne die wetlike raamwerk in belang van al die inwoners op te tree.


