Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

EFF-standbeeld-vandaliste word vervolg na klagtes van die VF Plus

Die VF Plus se aksies het gelei tot ‘n belangrike deurbraak in die stryd teen die EFF se deurlopende pogings om openbare onrus en geweldpleging aan te hits deurdat die Valke nou aangekondig het sekere persone gaan vervolg word op aanklagtes van saakbeskadiging en vandalisme.

Die deurbraak kom ‘n jaar nadat die VF Plus klagte by die Valke ingedien het teen onder andere die EFF se leier, Julius Malema, oor die beskadiging van die Kruger-standbeeld op Kerkplein in Pretoria.

Adv. Anton Alberts, VF Plus-LP, Gautengse leier en burgemeesterskandidaat vir Tshwane/Pretoria, het vandag gesê die Valke het aan hom bevestig dat die ondersoek voltooi is en dat sekere persone in die proses is om aangekla te word.

Volgens adv. Alberts het die VF Plus deurentyd nou met die Valke saamgewerk in die ondersoek, en het die party die Valke van belangrike inligting voorsien.

Die voorval het plaasgevind in April verlede jaar toe standbeelde op groot skaal regoor Suid-Afrika beskadig is. Adv. Alberts sê die EFF se leiers het die vandalisme openlik aangemoedig. Mnr. Floyd Shivambu, EFF-LP, het selfs op Twitter aan EFF-volgelinge gesê dit is nie nodig om deur ‘n regsproses te gaan om beelde te verwyder nie.

“Die EFF het mense opgesweep om sogenaamde ‘koloniale standbeelde wat aan apartheid herinner’ te verniel of af te breek, en dit het direk gelei tot die opsetlike beskadiging van Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein. Die EFF het later in die openbaar verantwoordelikheid vir die voorval aanvaar.

“Die klagtes wat die VF Plus ingedien het, was gegrond op die verbreking van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne.

“Die boodskap moet hiermee hard en duidelik uitgestuur word dat Suid-Afrika steeds ‘n regstaat is waarin boewery soos die EFF uitgestal het, nie geduld sal word nie, en dat niemand in ‘n grondwetlike demokrasie bo die wet verhewe is nie,” sê adv. Alberts.

 

Navrae: 083-419-5403 / 082-391-3117

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.