Hoewel die Vrystaatse premier nege munisipaliteite as water- en sanitasiebrandpunte identifiseer, is dit duidelik dat plaaslike regering met krisisbestuur besig is.
In antwoord op ʼn vraag van die VF Plus in die Vrystaatse wetgewer, het die premier, Maqueen Letsoha-Mathae, aangedui dat die plaaslike munisipaliteite Maluti-a-Phofung (Harrismith en QwaQwa), Masilonyana (Brandfort en Winburg), Nketoana (Reitz, Petrus Steyn en Arlington), Setsoto (Clocolan, Senekal en Ficksburg), Kopanong (Trompsburg, Jagersfontein en Fauresmith), alle dorpe van die Welkom-gebaseerde Matjhabeng, Ngwathe (Parys en Vredefort), Mafube (Frankfort, Cornelia en Tweeling) en die Mangaung metro (Bloemfontein, Botshabelo en Thaba ’Nchu) as brandpunte geag word.
Water- en sanitasieprobleme bestaan reeds vir etlike jare in dié munisipaliteite. Jaarliks word inwoners meegedeel dat daar net gewag word vir nasionale fondse en selfs intervensies.
Dit bly egter leë beloftes en inwoners se lewe verbeter nie.
Die meeste oplossings vir die munisipaliteite se probleme is volgens die premier óf in die proses om aangespreek te word óf daarop gemik om nasionale befondsing vir kritieke infrastruktuurprojekte te bekom.
In dorpe soos Kroonstad, Parys en Brandfort is daar swart ekonomiese bemagtigingskontrakteurs aangestel wat óf nie die werk kon voltooi nie, óf nie deur die munisipaliteite betaal is nie en kritieke projekte word nie voltooi nie.
Inwoners is vir jare reeds die slagoffers weens die ANC se wanbestuur van munisipaliteite.
Dit blyk duidelik uit die onlangse verslag van die menseregtekommissie (MRK) oor die mislukkings van plaaslike regering om basiese dienste soos water en sanitasie aan inwoners te verskaf.
Die MRK het die meeste Vrystaatse munisipaliteite skuldig bevind aan skendings van grondwetlike regte en ander wetgewing wat water en sanitasie aan inwoners waarborg.
Die enigste manier om die moeisame taak aan te pak om effektiewe water- en sanitasiedienste in die provinsie te herstel, is om te verseker dat die ANC uit die rade van Vrystaatse munisipaliteite gehou word.


