fbpx
Vryheidsfront Plus

Droë krane in Merafong dwing skool om vroeg te sluit

Die Laerskool Jongspan in Carletonville gaan Donderdag sy leerders vroeg huis toe stuur weens droë krane nadat Randwater die waterdruk aan die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) met 70% verlaag het.

Die skoolhoof, dr. JH Malan, het in ʼn amptelike brief aan ouers geskryf dat die skool geen drinkwater of water vir sanitêre gebruik het nie.

Groot gedeeltes van Merafong het al vir ʼn geruime tyd geen water nie weens die verlaging in waterdruk.

Die gevolg is dat reservoirs se watervlak in Carletonville en Fochville reeds op 10% staan en vinnig besig is om totaal op te droog.

Die VF Plus in die Merafong City-munisipaliteit het vandag die munisipale bestuurder, mnr. David Mabuza, versoek om dringend met Randwater in gesprek te tree om die waterdruk na die munisipaliteit te verhoog.

Die munisipaliteit het in ʼn skrywe te kenne gegee die verlaging van die waterdruk is die gevolg van Gauteng se verhoogde waterverbruik.

Die VF Plus is nie oortuig met die verklaring nie en skryf die drastiese stap eerder toe aan Merafong wat nie getrou bly aan sy afbetaling-ooreenkoms met Randwater nie. Dié munisipaliteit skuld Randwater R763 737 343.

Die VF Plus sal nie verbaas wees indien ander skole die voorbeeld van die Laerskool Jongspan volg en hul leerders onbepaald huis toe stuur totdat daar ʼn werkbare ooreenkoms tussen die munisipaliteit en Randwater gevind is nie.

Die VF Plus het reeds die aangeleentheid opgewentel na die Gautengse departement vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) om in te gryp by Merafong se waterkrisis.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.