Die VF Plus beskou Randwater se leen van 17 bakkies oor ‘n tydperk van drie maande aan die Emfuleni-munisipaliteit as veels te min om die omvangryke waterkrisis in die munisipaliteit op te los.
Die bakkies word deur Randwater gehuur en aan Emfuleni beskikbaar gestel as deel van die Artikel 63-proses van die Nasionale Waterdienstewet ingevolge waarvan die nasionale departement van water en sanitasie volledig beheer geneem het oor alle waterbronne in die munisipaliteit.
Die departement het Randwater aangestel as die implementeringsagent vir die proses.
Die bakkies moet gebruik word om drie waterdepots te bestuur en onderhou, maar is weens die omvang van die waterprobleme in die munisipaliteit heeltemal onvoldoende.
Volgens die ANC-beheerde Emfuleni wil hy in die volgende drie maande 35 voertuie aankoop om voort te gaan met die bestuur en onderhoud van die waterstelsel.
Gegewe die Emfuleni-munisipaliteit se bankrot status, is dit nie duidelik waar daardie fondse vir die aankoop van die voertuie vandaan sal kom nie.
Met die ANC in beheer is dit hoogs onwaarskynlik dat hierdie doelwit sal realiseer.
Die departement van water en sanitasie se radikale ingryping in die waterstelsels van Emfuleni moet gelê word voor die deur van die ANC wat tans die munisipaliteit bestuur.
Die ANC het soos met elke ander aspek van die munisipaliteit, die waterstelsel so wanbestuur dat bykans 60% van die dorp se watertoevoer verlore raak.
Die enigste oplossing vir die probleme wat die dorp in die gesig staar, is om uiteindelik die ANC uit die kussings te lig.
Die VF Plus sal die werksaamhede van die waterspanne monitor om te verseker dat die nodige waterdienste sover moontlik gelewer word.