fbpx
Vryheidsfront Plus

Wanbetaling van Mamusa-munisipaliteit bedreig landbou-ekonomie van Schweizer-Reneke

Die Mamusa-plaaslike munisipaliteit (Amalia, Schweizer-Reneke) se wanbetaling aan munisipale verskaffers van elektriesetoebehore gaan groot verliese meebring vir die landbougemeenskap van Schweizer-Reneke.

Sommige boere sit reeds sedert 10 April sonder krag nadat transformators buite werking geraak het weens swak instandhouding, diefstal en vandalisme.

Hierdie boere moet nou teen buitensporige koste self krag opwek om krag en water vir hul boerderye te verseker.

Boonop dreig verskaffers van kragtoerusting om dié toerusting by van die werkende transformators te verwyder omdat hulle maande ná die installasie daarvan, steeds wag op hul betaling van die munisipaliteit.

Só ‘n stap sal die hele boeregemeenskap in die Schweizer-Reneke-omgewing raak.

Die VF Plus het verskeie versoeke gerig tot die munisipale bestuurder, Tshepo Bloem, om dringend te sorg dat die beskadigde transformators herstel word om te verseker dat die landbougemeenskap betroubare kragverskaffing het.

Ten spyte van verskeie beloftes het nog niks gerealiseer nie en word al die boere nou bedreig deur die lakse optrede en wanbestuur van die munisipaliteit.

Dit blyk duidelik dat hierdie ANC-beheerde munisipaliteit skynbaar geen begrip het vir die kernrol van die landbougemeenskap in die plaaslike ekonomie nie.

Behalwe vir die feit dat die plaaslike landbousektor ‘n belangrike werkverskaffer in die gebied is, is die meeste plaaslike ondernemings ook grootliks afhanklik vir hul inkomste uit die landbougemeenskap.

Die VF Plus sal aanhou druk toepas op alle vlakke van regering om die Schweizer-gemeenskap te ondersteun in hul stryd teen die wanbestuur en onverantwoordelikheid van hierdie ANC-beheerde munisipaliteit.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.