fbpx
Vryheidsfront Plus

Drastiese optrede teen Mogale City oor besoedeling van Gauteng-waterbronne verwelkom

Die VF Plus verwelkom die hofaksie van die nasionale departement van water en sanitasie teen die Mogale City-plaaslike munisipaliteit oor die besoedeling van die Blougatspruit en Krokodilrivier ná die ineenstorting van die Percy Stewart-watersuiweringsaanleg in Krugersdorp.

Die departement het die hooggeregshof in Johannesburg met ʼn dringende aansoek genader om onder meer ʼn verklarende bevel te verkry teen die munisipaliteit en sy munisipale bestuurder, Makhosasana Msezana, se versuim om hul grondwetlike verpligting na te kom en die grootskaalse storting van onverwerkte riool in waterstrome en spruite toe te laat.

Die heersende krisis strek egter veel wyer as net die Percy Stewart-aanleg.

Dit sluit ook in die wanfunksionele Flip Human-watersuiweringsaanleg wat die Rietspruit en die Vaalrivier besoedel, die Brickvale-rioolstorting in dolomietgrond en die ontwikkeling van die Dr. Sefularo Village-hoëdigtheid-behuisingsprojek by Hekpoort. Daar is by dié ontwikkeling nog geen voorsiening gemaak vir die aanbring van ʼn watersuiweringsaanleg nie wat ʼn direkte bedreiging vir die besoedeling van die Magaliesrivier inhou.

Makhosasana Msezana is oor tyd sonder enige sukses deur die VF Plus, verskeie opposisiepartye en burgerregte organisasies gekontak om dringend by die besoedeling in te gryp.

Msezana, wat versuim om op korrespondensie te reageer, verskuif bloot die blaam na die nasionale departement in sy opponerende hofstukke deur te sê dat die verantwoordelikheid om te verseker dat water besoedel word, nie uitsluitlik by Mogale City lê nie, maar ook by die nasionale departement.

Sy verdere versuim om verantwoordelikheid te aanvaar deur te beweer dat die kwessie deur die president se koördinerende raad of nasionale regeringsforum hanteer kan word, is onaanvaarbaar en bloot ʼn poging om sy verantwoordbaarheid te ontduik.

Die VF Plus het op 27 November 2024 tydens vraetyd in die Gautengse wetgewer die premier, Panyaza Lesufi, versoek dat uitvoerende beamptes van munisipaliteite verantwoordelik gehou moet word vir hul versuim, veral waar skaars waterbronne besoedel word, deur gebruik te maak van spesiale ondersoekeenhede.

Die Gautengse portefeuljekomitee vir omgewingsake, landbou en landelike ontwikkeling het op 1 November 2024 onder leiding van Jaco Mulder, VF Plus-lid van die wetgewer en voorsitter van die komitee, ʼn veelparty-oorsigbesoek aan Mogale City gebring waartydens die burgemeester, die munisipale bestuurder en talle bestuurslui voor stok gekry is oor die swak bestuur van al die watersuiweringsaanlegte binne die munisipale gebied.

Politieke onstabiliteit in Mogale City, swak bestuur en ʼn gebrek aan verantwoordbaarheid verg drastiese ingrepe deur Lesufi, aanvullend tot die dringende hofaansoek van die departement van water en sanitasie

Die VF Plus sal as voorsitter van die portefeuljekomitee Mogale City en die Gautengse departement vir omgewingsake vasvat wanneer hulle vroeg in 2025 voor die komitee moet verskyn oor die spesifieke aangeleentheid.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.