Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Drakenstein-burgemeester skiet VF Plus-mosie oor Bainskloofpas af

Die VF Plus betreur die besluit van die burgemeester van Drakenstein, Stephan Korabie, om ’n mosie van die party te keer waarin versoek is dat die munisipaliteit met die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit en die Wes-Kaapse provinsiale regering in gesprek tree oor vragmotors se misbruik van die Bainskloofpas.

Volgens die burgemeester is die mosie onakkuraat en val Bainskloof nie onder Drakenstein se jurisdiksie nie aangesien dit ʼn provinsiale pad is.

Die VF Plus beskou hierdie reaksie as kortsigtig en onversoenbaar met die verantwoordelikheid om ’n nasionale erfenisroete te beskerm

Al val die pas tegnies buite munisipale jurisdiksie, verhoed niks die munisipaliteit om met die provinsiale regering in gesprek te tree om dié nasionale erfenisroete wat deel is van Unesco se Kaapse Wingerdroete, te beskerm nie.

Vragmotors gebruik gereeld die Bainskloofpas as ‘n kortpad tussen Wellington en Ceres ten spyte van ‘n verbod.

By die Preekstoel, waar skerp draaie en ’n oorhangende rotsformasie ’n gevaarlike hindernis vorm, sit trokke gereeld vas sonder enige omdraai-opsie. Tussen 2023 en 2025 is reeds 57 voorvalle aangemeld wat padskade, erosie en urelange verkeersopeenhopings veroorsaak het.

Gawie se Water, ’n belangrike deel van die erfenisgebied, ondervind ook toenemende druk weens rituele aktiwiteite, oormatige parkering wat paaie versper en onwettige vure. In 2022 het ’n brand wat ontstaan het weens ʼn ongebluste vuur groot skade aangerig.

Die VF Plus het in sy mosie versoek dat daar daadwerklike samewerking tussen provinsiale en munisipale owerhede gekoördineer word om vragmotors uit die Bainskloofpas te verbied.

Die party het ook gevra vir strenger handhawing by Gawie se Water om besoedeling, oormatige parkering en brandrisiko’s te voorkom en dat die pas se erfenisstatus beskerm word.

Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen totdat hierdie roete en sy omgewing die beskerming kry wat dit verdien.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.