Die VF Plus verwelkom die opgradering van die Donkerpoort-stortingsterrein in die Thabazimbi-plaaslike munisipaliteit. Die werk sal na verwagting in die begin van Februarie 2025 ʼn aanvang neem.
Die VF Plus het sedert 2016 alles in sy vermoë gedoen om die munisipaliteit sover te kry om die stortingsterrein op te gradeer.
Die party het selfs die saak by die menseregtekommissie (MRK) aangemeld en het ook ʼn strafregtelike klag teen die munisipaliteit aanhangig gemaak.
Die ouditeur-generaal (OG) het ook telkemale in sy ouditverslae die stortingsterrein as wanfuksioneel uitgewys.
Lede van die plaaslike toerismebedryf in die omgewing van die Dwaalboompad kla gereeld oor die haglike toneel wat toeriste moet aanskou.
Dit is buiten die gesondheids- en brandgevaar wat dit vir die gemeenskap inhou.
Die Anglo American Amandelbult Complex se Social Labour Plan (SLP) sal die opgradering van die stortingsterrein finansier. Dit behels onder meer nuwe administrasiekantore en stootskraper.
Na verwagting sal die projek teen September 2025 voltooi wees.
Die VF Plus sal intussen die projek se vordering monitor en voortgaan met gereelde oorsigbesoeke aan die stortingsterrein.


