Die ware redes vir xenofobie in Suid-Afrika moet voor die deur van ‘n onbevoegde ANC-regering gelê word, sê dr. Corné Mulder, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor binnelandse sake.
Dr. Mulder sê die probleem is oor 22 jaar geskep deur mense toe te laat om vryelik oor die land se grense en by sy hawens in te stroom. Voeg daarby ‘n swak ekonomie en groot werkloosheid onder die land se eie mense en dit is duidelik ‘n resep vir konflik.
Hy sê die VF Plus veroordeel nogtans xenofobie ten sterkste, en daar is geen rede waarom Suid-Afrikaners buitelanders moet aanval vir probleme wat die maaksel van die ANC is nie.
“Die minister van polisie het vir ons ‘n lesing gegee oor wit minderheidskapitaal, meester en slaaf, imperialisme ensomeer. Sy optrede om Nkandla te verduidelik was ‘n beter poging as hierdie.
“Daar is baie redes vir xenofobie. Dit het nie oornag begin nie. Soos die misbruik van die land se grense en hawens oor 22 jaar. Mense is toegelaat om vryelik die land binne te kom. Nou eers wil binnelandse sake iets daaraan doen.
“Suid-Afrikaners meen ook hulle kan die reg in eie hande neem waar die vermoede bestaan dat buitelanders by misdaad betrokke is aangesien hulle meen die polisie kan niks daaraan doen nie.
“Gister by Olievenhoutbosch het ‘n betoging begin weens ‘n gebrek aan dienslewering. Die mense was kwaad omdat die plaaslike en provinsiale regering nie dienste gelewer het nie.
Dit het kort voor lank ontaard in ‘n geplunder van buitelanders se besighede. Die ware rede hiervoor is omdat die ekonomie nie groei nie, daar word nie werk geskep nie en mense kry swaar en is desperaat,” het dr. Mulder gesê.
Dr. Mulder het die EFF ook gekritiseer omdat hulle probeer het om xenofobie met die rassekwas in te kleur. Hy het gesê die aangeleentheid is veel ernstiger as dit en die boodskap moet aan die publiek gestuur word dat dié soort van optrede nie geduld sal word nie.
Kontaknommers: 083 626 1497 / 083 419 5403