fbpx
Vryheidsfront Plus

Dewetsdorp-waterprobleme: Nuwe stadsbestuurder van Mangaung beloof onmiddellike ingryping

Die VF Plus het gister die waarnemende stadsbestuurder, mnr. Sello More, van die Mangaung-metroraad wat Bloemfontein, Botshabelo, Dewetsdorp, Mangaung, Soutpan, Thaba Nchu en Van Stadensrus bedien, vergesel na Dewetsdorp se reservoir en stortingsterrein om die dorp se ernstige water- en diensleweringsprobleme aan hom uit te wys.

Die VF Plus het ook oplossings aan die hand gedoen oor hoe om die probleme op die korttermyn te verlig om dit eindelik uit te skakel.

Die hoof van die metro se departement van infrastruktuur, mnr. Mlondolozi Ndlovu, het die groep vergesel en stem saam dat dienslewering op Dewetsdorp geprioriseer moet word.

Die amptenare het onderneem om dadelik werk te maak van die waterprobleme en om dit binne die volgende paar dae reg te stel en om in die proses vas te stel of die pypleiding wat in 2019 aangelê is, nog gebruik kan word.

Selfs al word die probleme by die pompstasie opgelos, sal dit alleen nie genoeg verligting bring wat betref waterlewering aan die dorp nie.

Die reservoir is in 2014 nuut aangebou, maar staan in onbruik sedert dag een weens swak vakmanskap wat ‘n goeie voorbeeld is van tendertoekennings aan onbevoegde kaders.

Oor die stortingsterrein het More onderneem om so gou moontlik kompakteerders, stootskrapers en ander nodige toerusting te voorsien om die terrein weer behoorlik te laat funksioneer.

Een van die hoofredes vir die swak toestand van Dewetsdorp en die diensleweringsprobleme is die ontbinding van die Naledi-plaaslike munisipaliteit om in te skakel by die Mangaung-metro.

Dit herbeklemtoon die VF Plus se siening dat munisipale beheer en bestuur tot die laagste vlak moontlik afgewentel moet word sodat inwoners self hul dienste kan bestuur.

Die VF Plus verwelkom die ondernemings van die stadsbestuurder om die probleme reg te stel. Woorde is egter goedkoop en die party sal seker maak die beloftes word gestand gedoen.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.