Terwyl daar ‘n moratorium is op die aanstelling van nuwe polisielede en misdaad skerp styg, geniet politici en senior polisielede steeds polisiebeskerming wat belastingbetalers byna R200 miljoen per jaar kos.
Uit ‘n amptelike, geskrewe vraag van die VF Plus aan die minister van polisie, Bheki Cele, blyk dit dat altesame 184 politici sedert 29 Mei 2019 persoonlike beskerming geniet het. (Volledige vrae en antwoorde hierby aangeheg).
Die totale bedrag wat sedert 29 Mei 2019 tot nou toe hieraan bestee is, beloop feitlik R400 miljoen (R399, 497 miljoen).
Minister Cele het egter die vraag ontduik oor wie al die politici is wat polisiebeskerming geniet en die VF Plus vra in ‘n opvolgvraag dat hierdie persone se name bekend gemaak word, asook wat die koste vir die beskerming van elk beloop.
Die antwoord lui onder meer dat beskerming verleen word aan onder andere ministers, adjunk-ministers, provinsiale premiers, lede van uitvoerende rade, speaker en adjunk-speaker van die parlement, voorsitter en ondervoorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), provinsiale speakers en adjunk-speakers, die hoof- en adjunk-hoofregter, regterspresidente en “politieke persone van belang’’.
Dit is nie bekend wie dié persone is nie. Luidens die antwoord word hul name in belang van hul veiligheid weerhou.
Altesame nege senior polisie-offisiere het beskerming ontvang. Aan sommige van hulle, soos genls.maj. André Lincoln en Jeremy Veary, is vier polisielede elk toegewys vir beskerming.
Dit is totaal onaanvaarbaar dat daar pogings is om die publiek se vermoë en reg om hulself te beskerm weg te neem terwyl talle politici steeds omring word van opgeleide en gewapende polisielede vir beskerming.
Die ironie is dat die publiek, wat toenemend uitgelewer word aan misdaad, boonop hiervoor moet betaal.