fbpx
Vryheidsfront Plus

Bring dissipline terug na die Gautengse polisie

Die agteruitgang van dissipline in die Gautengse polisie is ‘n groot bron tot kommer en die enigste wyse om die integriteit van die polisie te verseker, is die handhawing van ‘n streng en volgehoue dissiplinêre kode.

Die VF Plus het tydens die tweedaagse veiligheidseminaar wat Vrydag en Saterdag deur die Gautengse portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid aangebied is, benadruk dat die leierskap sy verantwoordelikhede moet opneem om dissipline te handhaaf.

Indien die leierskap nalaat om teen polisielede op te tree, skep dit ‘n geleentheid vir korrupsie, omkopery, substandaard-ondersoekvaardighede, vernietiging van polisiedossiere, die verkoop, steel of vernietiging van bewysstukke en afpersing wat lei tot totale magsmisbruik.

Die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) het gedurende die seminaar ‘n voorlegging gedoen oor die publiek se vertroue in die polisie asook eise wat ingedien is teen die polisie.

Luidens die nasionale syfer het slegs 26% van Suid-Afrikaners ‘n redelike vertroue in die polisie en R1,8 miljard se eise is die afgelope vyf jaar betaal weens onwettige inhegtenisnemings.

Luidens die ISS is die skuldigbevinding van polisielede laag en baie lede word kwytgeskeld met net ‘n waarskuwing of ‘n minimale strafoplegging. Baie polisielede is oningelig oor hul magte en regte en so word mense onregmatig in hegtenis geneem. Dit is om hierdie rede dat opleiding hersien moet word.

Die VF Plus weet daar is baie goeie polisiemanne en -vroue wat daagliks hul lewe op die spel plaas om misdadigers tot verantwoording te bring, maar die polisie sal aksieplanne moet saamstel om die publiek se vertroue te wen.

Deur ‘n gesonde vertrouensverhouding tussen die polisie en publiek, kan onder meer gesinsgeweld beter bestry word as slagoffers meer geneë is om na vore te kom om oortreders uit te wys wat kan lei tot skuldigbevindings en vonnisse.

Die VF Plus het ‘n vraag gerig aan die Gautengse LUR vir gemeenskapveiligheid, Faith Mazibuko, oor hoeveel eise in Gauteng teen die polisie ingestel is, hoeveel polisielede en veiligheidsdienste intern en strafregtelik vervolg is en meer.

Die polisiediens het ‘n plig teenoor die inwoners van Gauteng om hul veiligheid te verseker en hul vertroue te herwin en daarom kan die gedrag van ongedissiplineerde polisielede, wie se salarisse met belastinggeld betaal word, nie langer geduld word nie.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.