Die VF Plus eis dat die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, ‘n volledige verslag van die departement van korrektiewe dienste aanvra en voorlê aan die parlementêre portefeuljekomitee vir justisie en korrektiewe dienste ná die omstrede toekenning van mediese parool aan oud-president Jacob Zuma.
Die departement sal moet aandui of die mediese paroolraad wel vergader het ná ‘n aanbeveling van die mediese parool-adviesraad voordat die kommissaris van korrektiewe dienste, Arthur Fraser, op 5 September (vandeesmaand) Zuma se parool toegestaan het.
Mediese parool kan toegestaan word indien ‘n oortreder terminaal siek is of aan een van die voorgeskrewe toestande ly of ‘n besering het wat die gevangene se daaglikse aktiwiteite beperk.
Zuma sou aansoek om mediese parool moes doen deur sy dokters of regsverteenwoordigers wat spesifieke redes moes aanvoer rakende sy mediese toestand en sy onvermoë om te funksioneer wat dan verder onder meer deur die Estcourt-gevangenishoof goedgekeur moes word. Die gevangenishoof moes dit dan aanbeveel na die mediese paroolraad.
Dis ook belangrik om vas te stel of die mediese parool-adviesraad die versoek goedgekeur of afgekeur het en indien afgekeur, Zuma se mediese parool bloot deurgedruk is deur die kommissaris.
Die VF Plus eis daarom dat die departement die werkswyse van Fraser ondersoek wat voorheen verbintenisse met Zuma gehad het soos geblyk het uit die wapenskandaal-ondersoek na spioenasiebande en as voormalige direkteur-generaal van die staatsveiligheidsagentskap.